Friday, April 29, 2011

Mei maand se storie: Klonkies se Zonkies

Klonkies se Zonkies

Deur Ian Snyman

Klonkies was my troeteldier vir baie jare. Ek het hom as ʼn baba reeds van sy ma weggesmokkel en op koue wintersaande deur die kamervenster ingetel sodat hy by my onder die kombers kon slaap. Dit was in die dae voordat diefwerings op vensterrame nodig was. Ek was maar nog in standerd nege oftewel graad elf. Klonkies was ʼn foksterrier.
Reeds op ʼn jong ouderdom het hy saam met my na skool in Klein Windhoek se berge gaan draf. Aan die begin nie te vêr nie, dan was sy voete seer en moes ek hom al drawwende dra. Later was hy egter die meester en terwyl ek op die tweespoor paadjies draf wat vandag Ludwigsdorf is, het hy nog tussendeur dassies gejaag en ystervarke gesoek. Hy was later so gespierd van berge hardloop dat hy baie gesog onder sy vroulike anhangers was. Sy nasate van latere jare doen vandag nog diens op baie plase regoor die land.
Klonkies se onder die kombers slapery het egter sy nadeel ook gehad. Sodra ek moes rugby of atletiekoefeninge bywoon het dit groot planmakerye afgegee om hom te ontglip. Gewoonlik het ek aan die agterkant van die huis met hom gespeel, dan rustig by die agterdeur ingegaan en dan vinnig by die voordeur uitgeglip en straataf gehardloop totdat ek buite sig van die huis was. Sou hy my egter gewaar dan was hy in ʼn japtrap oor die draadheining en saam met my by die oefeninge.
Vandag se jongmense sal my seker nie glo nie maar in daardie dae was ʼn eenvoudige lae draadheining voldoende afskorting tussen jou en jou buurman en ook aan die voorkant van die huis. Geen hoё tronkmure met ysterpenne aan die bokant en nog elektriese drade daaraan vas en dan nog stukkende bottelskerwe aan die bokant vasgepleister nie. Ook geen elektriese hekoopmakers nie, slegs ʼn gewone oopswaai tipe plaashek het die ding gedoen. Die het gewoonlik oopgestaan aangesien Klonkies in elk geval sy pad na buite gekry het net wanneer hy wou.
Klein Windhoek se teefbevolking het aan Klonkies behoort. Hy was die spreekwoordelike haan onder die henne. Hy het ondanks sy grootte geen teenstand in die strate geduld nie. Al die tewe het aan hom behoort en wanneer hy sy rondtes gedoen het moes alle ander honde in hulle erwe wees, anders was daar moeilikheid. Ek moes hom menigmale weer aanmekaar lap en met Detol lawe totdat hy weer op die been was. Dan was dit maar weer sulke tyd.
Om een of ander rede het ek geen probleme met hom ondervind wanneer ek in die oggend skool toe is nie. Hy het my nooit probeer agtervolg nie. Miskien oor die regering van daardie tyd nog nie genoeg mag en krag gehad het om die son te briek sodat hy in die winter eers later kon opkom nie. Die gevolg was dat dit nog stikdonker was wanneer ek skool toe geloop het. Nooit is egter ʼn baie lang tyd en Klonkies het my nooit skool toe gevolg nie tot daardie een oggend.
Op skool is dit nou maar so dat daar altyd daardie een onderwyser is wat anders is. Die een wat om een of ander rede moet uitstaan en verskil van die res. Een so onderwyser was ou Pen. Natuurlik nie sy regte naam nie, maar om verstaanbare redes kan ek mos nie sy regte naam noem nie, in geval van weerwraak.
Ou Pen was klassiek, behorende tot die Romeinse oudheid. Enig in sy soort. As Herman nie sy huiswerk gedoen het nie, moes ek die pak slae kry. As Attie stout in die klas was, dan moes ek gaan buk. Sommer daar voor in die klas. As Louis die goudvis in die Wetenskapklas opeet dan moes ek in Pen se klas die straf kry. As ek self nie my huiswerk gedoen het nie, dan moes ek ook buk. Ek was die pakdonkie. Alle skuld het hy op my gepak.
Dan was hy ook baie vermakerig voor die kinders. Hy het menigmale ʼn vet stuk beesbiltong voor in die klaskamer uitgehaal en dan met groot gebaar stukkie vir stukkie met sy Joseph Rodgers knipmes afgekerf en met groot smaak verorber. Dit terwyl ons arme dorpskinders diamante makliker as biltong in die hande kon kry. Sy liniaal was hoofsaaklik gebruik om sy rug mee te krap.
Eendag toe sit ons in ou Pen se klas en hy word oor die interkom na die skoolhoof se kantoor ontbied. Ons is rustig besig met huiswerk doen toe ʼn beweging in die oop klaskamerdeur my aandag trek. En daar staan hy in die deur, Klonkies. Ek sak my kop heel weg in my skouers in sodat hy my net nie moet raaksien nie. Onderlangs hou ek hom dop en dan sien ek dat die ruike wat hy ruik niks met my te doen het nie. Hy soek plek om sy ding te doen en dan doen hy dit ook sommer.
Net daar in ou Pen se klaskamerdeur laai Klonkies die kinders by die skool af. Vir die wat nie weet nie, hy laat die gyselaars vry. Hy poef, maak ʼn bollie, so lekker lange. Een van die meisiekinders skreeu en ʼn ander jaag vir Klonkies weg. Ek besef dat ek daardie koeksuster sal moet verwyder voordat ou Pen terugkeer en gaan dadelik deur toe. Ek loer na buite maar gelukkig is daar geen Klonkies of Pen te sien nie.
Ek kan nie die goed met my kaal hande optel nie en soek naarstigtelik na iets om die werk te doen. Dan sien ek dit op ou Pen se lessenaar, sy breё rugkrap liniaal en sy Joseph Rodgers knipmes. Ek neem die knipmes en slaan dit oop en gebruik dan die lem om die Klonkiepastei op die liniaal te krap. Behendig balanseer ek die gedoente en skiet dit vinnig anderkant die stoep af. In die hoek van my oog merk ek dat ou Pen reeds op pad klaskamer toe is. Daar is nie tyd vir skoonmaak nie en ek slaan net vinnig die knipmes toe en sit dit saam met die liniaal op die lessenaar.
Ek het skaars gaan sit of ou Pen loop by die klaskamer in. Hy gaan sit en kyk ons kinders so uit die hoogte uit aan. Hy buk en dan haal hy iets uit sy tas uit. Die lekkerste vet stuk beesbiltong kom in sy hande te voorskyn en dan tel hy sy knipmes op. Die hele klas begin te gril maar niemand durf iets sê nie. Leedvermakerig sny hy die eerste stukkie biltong en sit dit in sy mond. Hilda spring orent en hardloop vir die deur terwyl sy onderlangs iets van kamerverlaat in ou Pen se rigting mompel.
Party kinders probeer om hulle koppe so ongeerg as moontlik onder die tafels in te druk. Niemand wil in ou Pen se rigting kyk nie, dit is nou niemand behalwe ek nie. Elke keer as hy ʼn stukkie kerf en dit in sy mond plaas dan dink ek aan ʼn hou wat ek onnodig gekry het. Elke hond kry sy dag maar vandag het ʼn hond die dag gekry. Ek het spesiaal met my sakgeld vir Klonkies daardie maand ʼn stuk biltong gaan koop en dit nog met my Okapi vir hom opgekerf. Klonkies het my held geword, en ou Pen, wel hy het later jare die skoolhoof geword.

1 comment: