Alles wel
deur
Ian Snyman
Vroeg in die tagtiger jare het die Polisiediens van Suidwes-Afrika ʼn besonderse goeie taktiek gehad om die beste prestasies uit hul lede te kry. Rugbyspelers is byvoorbeeld gemonitor oor hul bywoning van oefeningsessies. Wanneer ʼn speler ʼn oefening of twee wegbly sonder ʼn geldige verskoning sou hy ʼn ernstige waarskuwing ontvang. As die wegblyery egter ʼn gewoonte word, dan kon die polisieman hom maar gereed maak vir ʼn verplasing.
Die eerste keuse van sy nuwe adres is vir hom gemaak en sou gewoonlik Keetmanshoop wees. Daar moes hy weer vir rugby aanmeld en op die manier het Keetmanshoop ook ʼn sterk span gehad. Sou hy egter daar ook van die oefeninge wegbly dan was Karasburg sy volgende pos. Karasburg het dus ook in daardie jare ʼn span gehad. As hy daar ook nie meer geoefen het nie dan was ʼn klein tweeman of eenmanstasie sy volgende pos. Op die manier kon Windhoek Polisie met gemak vier goeie spanne op een dag op die veld stuur, dit terwyl ʼn menige van ons klubs vandag sukkel om ʼn volledige span vir ʼn fiksheidsessie by die veld te kry.
As jy dus in Windhoek wou bly moes jy seker maak dat jy honderd persent alles gee vir dit waarvoor jy jou inlaat. Dieselfde metode is gebruik in werksverband ook en nie alleenlik vir sport nie. Nalatigheid kon maklik ʼn verplasing teweegbring, terwyl growwe nalatigheid tot onmiddelike ontslag kon lei. Daar was egter ʼn middelweg vir laasgenoemde. Wanneer jou nalatigheid van so aard was dat dit nie jou ontslag regverdig nie en jy het potensiaal as ʼn polisieman gehad, dan kon jy jouself maklik op ʼn tweemanstasie bevind. Daar waar dit net jyself en die sersant is. Die sersant kon dus nog ʼn oog oor jou hou.
Een so ʼn geval was Doepie en hy het een swakpunt gehad ondanks die feit dat hy ʼn baie goeie polisieman was. Doepie kon goed slaap. Hy kon so goed slaap dat hy gereeld laat vir diens aangemeld het en dit het sy verplasing tot gevolg gebring. Doepie was natuurlik nie sy regte naam nie en die dorpie na waar hy verplaas is kan ek nie noem nie, want hy was ʼn goeie polisiebeampte en ons wil hom nie in die verleentheid bring nie.
Doepie meld toe aan by sy nuwe stasie en ontmoet die sersant. Die sersant wys hom al sy nuwe pligte breedvoerig en meld terloops dat die grootmanne in Windhoek baie van hom wat Doepie is hou en dat hy hier die geleentheid kry om sy naam in ere te kan herstel. Konstabel Doepie is teleurgesteld en reeds vervelig in sy nuwe stasie. Daar is die polisiestasie met sy selle, die gebruiklike poskantoorgeboutjie, die treinstasie en ʼn winkeltjie of twee. Die enigste vermaak op die dorpie was die wat jy vir jouself kon bied en in Doepie se geval het dit slaap beteken.
So gebeur dit na omtrent twee weke dat die sersant eendag vir Doepie inroep en meedeel dat hy, die sersant, ʼn veediefstalsaak moet ondersoek. Hy sal vir die hele middag uit wees en eers laataand terugkeer. Doepie word in bevel van die aanklagkantoor gelos en moet die dorpie oppas totdat die sersant terugkeer, maak nie saak hoe laat nie. Die dorpie oppas beteken in die geval om alle polisieaangeleenthede te hanteer. Nou in die dorpie was die polisieman ook dokter, ombudsman, brandweerman, staatsaanklaer, veearts en heelwat meer.
Teen tien uur die aand is Doepie reeds erg vervelig. Die enigste opwinding van die dag was die trein wat verby gekom het. Wanneer die trein twee maal per week op die dorp aandoen dan is omtrent die hele dorp op die stasie teenwoordig. Doepie kry bietjie koud in die vroeё winter aandluggie en hy dwaal weg na die winkelgebou. Agter die gebou het die winkelier ʼn klein bakkery aangebou en van die dag se gebakkery is die oond nog lekker warm. Hier maak hy homself tuis bo-op die oond en sommer gou is hy vas aan die slaap.
ʼn Uur later kom ry die sersant die dorpie binne net om dit in absolute chaos te vind. Die spoorweggebou is aan die brand en die hele dorp is teenwoordig om die vuur te probeer blus. Dit is nou die hele dorp behalwe een man, Doepie, wat rustig op die oond slaap. Vanuit alle rigtings kom hardloop mense met houers water nader. Die afstande is egter vêr vanaf die naaste krane tot by die stasiegebou en die vuur is vinnig besig om buite beheer te raak. Die sersant sluit die selle oop en gee vinnig opdrag aan die gevangenes om te help vuur blus. Dit was nie ongewoon om in daardie tye gevangenes buite die selle met ander takies besig te sien nie.
Desondanks die hele dorp se hulp is die stasiegebou gou in ligte laaie en is alle pogings om die brand te blus vergeefs. Almal staan en kyk deur die nag hoe die gebou afbrand. Dit is immers die grootste opwinding wat die dorp nog in sy bestaan getref het. Tussendeur vra die sersant uit na Doepie, maar niemand het hom met ʼn oog gesien nie. Teen die tyd wat dit begin lig raak is alles verby. Vuil en moeg keer almal terug na hulle huise en die sersant na die polisiestasie. Uitgeput sak hy in die stoel agter die lessenaar neer.
Vyftien minute later word Doepie wakker en stap rustig terug na die aanklagkantoor. Hy groet die sersant, wat nie ʼn woord sê nie en trek die voorvalleregister nader. Tot die uiterste verbasing van die sersant, maak Doepie die volgende inskrywing in die register.
Konstabel Du Plessis rapporteer van diens. Alles is wel en geen noemenswaardige voorvalle het gedurende die nag plaasgevind nie.
lekker storie Ian geluk met die blog. ek hioop jy maak opslae. Die asid ei soort van ding wat ons die land nodig het
ReplyDeleteDankie Neelsman, ek hoop jy het internet daar waar jy gaan. Soos jy sien het ek die copy/paste bemeester, grootliks aan jou te danke.
ReplyDeleteDankie en groete.