Thursday, April 7, 2011

Vloede

Die baie reen het sy voordele en bring ongekende skoonheid aan ons land, maar daarmee saam kom ook ander nadele. Die koerante berig oral oor vloede en mense wat dakloos gelaat word. Op 4 April 2011 word geskat dat reeds 150 000 mense deur die vloede geraak word. My hart gaan regtig opreg uit na hierdie mense wie se lewens deur die vloede ontwrig word. Maar julle kon darem sekerlik reeds raai dat ek nie daaroor wil kommentaar lewer nie. Nee, inteendeel, volgens Dani Booysen se voorbladberig sal die Ministerie van Onderwys blykbaar reelings tref om verlore studietyd by vloedskole in te haal. Dis nou by die skole wat tydelik gesluit is as gevolg van ontoegangbaarheid as gevolg van die baie water. Hierdie verlore studietyd beoog hulle om moontlik in die vakansietyd in te haal. Wow. Definitief nie in my skooltyd 30 jaar gelede nie. Ek het nie eens in die skooltyd self geleer nie, hoe sou hulle my nogals in die vakansietyd wou maak leer. Ek kry sommer nuwe opregte dankbaarheid teenoor die regering van die dag. Dat hulle leerlinge so kan motiveer om gedurende die vakansietyd skool toe te gaan en agterstallige leerwerkies in te haal, wel dit wil gedoen wees. Daar is net eenvoudig geen manier op hierdie aarde dat my onnies van ouds my genoegsaam sou kon motiveer of dreig om my by daai skool te kry nie. Dit het genoeg selfmotivering gekos net om myself gedurende die normale kwartaaltye daar te kry en dan was die motivering meer deur atletiek, rugby en meisies teweeggebring as deur die honger na leerwerk. Andersins haal ek my hoed af vir die leerlinge wie se skoolbywoning gedurende die vakansietyd meer as 50 % van die totale leerlinge sal uitmaak. Maar ek beklemtoon dit weereens, daar is net nie n manier nie, nie in my tyd nie.

No comments:

Post a Comment