Thursday, April 21, 2011

Rassie vannie WP

As daar nou een ding is, naas my kiddies, wat my baie na aan die hart lȇ, dan is dit WP rugby. So die ou wat nou met Rassie wil gaan staan en rondploeter, wel hy vat nou aan my ook, en ek dink sommer aan baie ander Stormers ondersteuners ook. Vandat hy in die Kaap geland het, is die verandering sommer baie duidelik sigbaar. Die WP en Stormers speel weer rugby soos dit behoort gespeel te word en jong talent kom weer na vore soos in die dae toe Carel du Plessis nie bang was om ʼn laaitie soos Percy in die bokspan te sit nie. Nou dat die Stormers goeie rugby speel (dit beteken om nie net met die bal te kan hol nie maar ook om ordentlik te kan verdedig) nou wil Pieter de Villiers vir Rassie bokke toe lok. Ek is een honderd persent daarvoor dat as jou land jou nodig het dan moet jy jou tasse pak en die bus klim, maar nie in die geval nie. In enige land, streek, klub of skool, is die tendens dat as die span nie goed speel nie, dan word die afrigter vervang na een of ander tyd. Ek ken net drie uitsonderings op die reel. 1. Die Cheetahs se Naka wat seker nog daar op pensioen sal aftree. 2. Namibia, wat ʼn hopeless case op sy eie is en 3. Die bokke. Nou is dit nie my opinie dat De Villiers vir Rassie intrek nie, maar dit is wat nou in die media vir geruime tyd gegis word. Pieter het dit ook nou bevestig dat Rassie as deel van die bestuurspan ingetrek gaan word maar sy spesifieke rol sal die 2de Mei bekend gemaak word. Ek weet mos wat daardie rol is en dit sal nie so in die media aangegee word nie, Rassie moet vir de Villiers gaan leer afrig. Dis nonsens man. As die man nie regkom nie moet hy loop en maak dan vir Rassie die afrigter. Soos dit nou gaan is dit nie die geval dat Rassie die bokke moet help nie, hy moet de Villiers se bas gaan red. Ek dink ook dat hulle hier vir de Villiers en Rassie te na kom. Rassie word nou as die beste beskou en sy hulp word benodig maar hy gaan nie die erkenning daarvoor ontvang nie, maar Div gaan dit kry. Die publiek is nie ape nie en Div maak sy eie naam krater in die proses. Dan het ek doerie tyd ʼn interessante gesprek met Harry Viljoen gehad oor sy bokke se swak vertoning en een oorweginde rede hoekom sy bokke nie presteer het nie was tyd. Waar Harry daagliks vir langer as ʼn jaar tyd met die WP spelers gehad het om sy wedstrydtaktiek in te oefen, het hy kwalik ʼn paar weke by die bokke gehad. Hierdie selfde probleem gaan nou vir Rassie tref. Al is die man hoe briljant, vertel nou vir my hoe moet hy in ʼn paar weke van ʼn atleet soos Pierre Spies ʼn rugbyspeler maak. Pierre speel nie naastenby dieselfde patroon as wat die WP speel nie en dit gaan Rassie jare neem om vir Morne Steyn te leer dink. Die enigste raad gaan wees om die outjies te fire en manne soos Duane en Patrick Lambie in te bring en dis maar enkele gevalle. Div het 3 jaar tyd gehad en noudat push comes to shuv , nou moet Rassie in soveel weke die oplossing bied. Hoe leer jy ʼn up and under backline in so kort tyd om die lyn aan te val? Kies die regte aanvallende spelers en Rassie sal hulle leer, maar gaan hy die mag kry om die span te kies of kies Div dieselfde beproefde (gefaalde) kombinasies en verwag van Rassie om hulle te leer. Ek meen Matfield en Bakkies en John Smit se dae was al op 50 toetse verby en nog steeds is hulle daar. Verwag ons nou dat Rassie hulle myle moet terug draai? Jy kan nie bloed uit ʼn klip uit tap nie en ek kry die indruk dat dit die realiteit is wat op Rassie wag. As ek hy was,( en ek is nie eens sy skadu as afrigter werd nie), dan het ek vir hulle gelag en met een boodskap gelos; Bel my wanneer julle my as hoofafrigter soek, maar tot dan is die Kaap nog hollands.

1 comment: