Thursday, April 7, 2011

CFS

Ek lees in vandag se Erongo bydrae dat hierdie maatskappy se deure nou reeds vir 10 jaar oop is. Die klomp gelukwens advertensies op dieselfde bladsy beaam die 10 jaarvieringe. Baie geluk manne, dis n prestasie vir enige privaatinisiatief om n sukses van n idee te maak. Maar nou weet julle mos dat dit nie die rede vir my skrywe sal wees nie. Nee, wiskunde is my probleem met hierdie rubriek. Ons is mos reeds die hele bladsy oor vertel dat die besigheid tien jaar oud is, maar daar groot in goue letters helder hulle die rubriek bietjie op met n aanhaling wat lees, tien dekades vir CFS. En dis presies waar my standerd sewe wiskunde gaan vassteek. Ja net standerd sewe. In Simonstad het ek n wiskunde onnie gehad wat n Portugese vlugteling was. Onder sy leiding was ek die top wiskunde leerling in die klas met n jaareindpersentasie van diep in die negentig persent. En toe volg die skuif Windhoek toe en ek beland by oorlee Boel Dreyer in die klas. Die 1 ste klastoets behaal ek minus 4 %. Nie eintlik iets wat ek gedink het is wiskundig moontlik nie, maar ek volg dit toe in die volgende toets op met minus 6%. So gaan dit in die volgende kwartaal aan en om n lang storie kort te maak, kom storm Mnr Dreyer een periode 5 minute voor pouse by die wiskunde klas in net toe die skoolhoof met sy afkondigings oor die interkomstelsel begin. Hy pluk daai luidspreker van die muur af en moer die ding by die oop kamerdeur uit. Jammer maar daar is nie n beter afrikaanse woord om daardie aksie te beskryf nie. Volgende storm hy tussen die tafels deur en gryp my rugsak hier langs my tafel en loop moer die ook by die deur uit. Kort op my skoolsak se spore is dit my beurt om uitgesmyt te word. Daai woorde,"gaan soek vir jou n ander vak" druis nog helder in my ore. Daar is my hele drome van Rekenmeester, Argitek en alle soortgelyke drome saam met n IK van 140 ook moer toe. Geskiedenis is waar ek op die ou end beland het nadat die skool se vakkeuses Rekenkunde nie saam met my ander vakke wou toelaat nie. Die was natuurlik ook een van my top vakke in die Kaap. Dis die dat Atletiek op die ou end my enigste topvak in WHS was. Hulle wou my nie by die ander gehad het nie. In elk geval ons het laas by 10 getrek. Volgens my st 7 kwalifikasie is 10 gelykstaande aan n een met n nul daaragter. Tien jaar word weer in jare uitgedruk as n dekade, dis nou as ek nog sover reg is. So tien dekades moet dus 10 maal tien jare wees, maw 100 jaar. Dit in jare uitgedruk sal dus n eeu wees. Nou verstaan ek nie hoe tien dekades by n besigheid se tienjarige bestaan ingevoeg word nie. Dis natuurlik my eie domgeid, dis ook die dat ou Boel my by die klas uitgemoer het, oor ek nie hierdie tipe logiese somme verstaan nie, of hoe?

No comments:

Post a Comment