Trippie deur memory lane;
Die reunie maak nogal mens se trippies deur Memory Lane kort-kort wakker. Net vanoggend gaan ʼn paar vinnige gedagtes deur my kop en alhoewel sommige laagtepunte is en anders weer hoogtepunte, voel dit nogtans so vars asof dit net gister gebeur het. Hier is so paar in geen spesifieke orde nie.
Met Otjiwarogo se 75ste jaar bestaan, hou die dorp omtrent makietie en WHS se atletiekspan word genooi om bietjie meer kleur aan die byeenkoms te verskaf. Dan was daar ook Koos van der Merwe, vir wie hulle die baan moes heruitmeet sodat hy nie die spies uit die stadion uitgooi nie. Daar was so langbeen Springbok hoogspringatleet, ek dink haar naam was Desiree of iets. Dan in die WHS span, was daar wat ek so vinnig aan kan dink, name soos; Gerhard Barnard, nog ʼn piekanienie in daardie stadium, maar die tekens was reeds daar dat hy eendag Springbok kon word, en hy het ook. Ander was Lynette Koen, Elsa Carstens(later Sprinbokkleure in fietsry verwerf) Jan Engelbrecht (oorlede) sy broer Louis, Riaan Alberts,Lorraine Pienaar (so vannie Kaap af en suster van 400m hekkies atleet Hannes)haar pa het ons ook in ʼn stadium afgerig, Serahna Kotze, Sandra Herling,Allegra van Heerden, die Van Wyk tweeling sussies, Danie van Antwerpen, Nico en Ben Wiese, Ben Human, Jannie Breytenbach, Jannie Els, en Nicolene le Roux en ek moet seker nie myself vergeet nie. Kan nie meer onthou of hulle almal die dag daar was nie, maar dis wat ek so vinnig van 30 jaar terug kan onthou. As ek reg onthou was daar iemand van Walvisbaai wat vir Gerhard die dag weggehardloop het, hoe geskok was ons klomp WHSers nie daaroor nie. Op die hitte van die dag moes ons die 3000m hol, kon hulle nooit beter tye vir die langafstande vind nie? ʼn Paar van die organiseerders kom vra my toe voor die tyd of ek nie vir hulle iets besonders kan opdis nie, soos ʼn nuwe Suidwes rekord of iets. Ek belowe niks, maar stem tog in om te probeer, mits hulle vir my die rondte tye kan lees, sodat ek net ʼn idée het van waar ek myself bevind. Die het toe net tydens die 1ste twee rondtes gebeur en toe raak die ou stil. Op my eie tyd hardloop ek toe die 3000 in 9min en een sekonde. As ek geweet het wat die tyd is sou ek dit onder 9 gedoen het, wat ʼn eerste op ʼn asbaan sou wees. Ek het dit wel later op WHS se asbaan onder 9 gedoen en op die tartan in Windhoek 8min 42sek. My ope rekord het in Pildich Pretoria in 8, 31 gedoen. Dit was nogal vir my amusant dat al my junior skole rekords ook senior rekords was. Die Springbok senior atleet wat later die Springbokke van Jake White se spansielkundige geword het, Henning Gerike, het my senior rekord in Windhoek met een sekonde kom verbeter. Dit was vir my nogal ʼn groot eer dat dit ʼn Springbok gekos het om ʼn skoollaaitie se tyd te verbeter. Dan natuurlik was daar die dag wat my afrigter, Willie Greeff, my die oggend van SWAIKS, die dag se Suidwester koerant kom wys het. Volgens die koerant sou ek later die aand gepoog het om die 1 ste junior of senior atleet te word wat die 1500m in Suidwes onder 4min hardloop. Van die poging het ek geen sout of water geweet nie, maar ek dog toe dis seker Willie se werk. Toe ons die aand in die absoluut volgepakte atletiekbaan instap, het ek hoendervleis gekry. Nog nooit tevore het ek eers die hoofpaviljoen vol gesien nie, wat wou die hele stadion. Daar keer toe bonop iemand vir Willie voor en vertel vir hom dat ons drome droom. “Daai maergat sal dit nooit regkry nie”, was die boodskap. Terwyl almal oor die beoogde tyd praat ,was ek intens bekommerd oor of ek sou wen of nie. As Willie wou hȇ die tyd moes minder as 4 min wees,dan sou ek dit so doen, ek het volle vertroue in hom gehad. My bekommerrnis was ʼn atleet van die Noorde af, Manie Geldenhuys. Ek was meer bekommerd of ek hom kon klop as oor die tyd. Ek het dit ook so vir Willie voor die tyd genoem, en hy het vinnig ander planne gemaak. Ek sou eerstens vir tyd hardloop en as ek nie vir Manie kon los gedurende die wedloop nie, dan sou ek die laaste 300m fokus op die wen alleenlik. En daar gebeur dit soos ek gevrees het dit sou gebeur, met 300m oor is daar nog geen tekens dat Manie wil uitsak nie. In die laaste pylvlak, waar Manie se spoed normaalweg te veel vir alle vorige teenstanders was, daar kom hy my verby met net 50 meter oor. Vanwaar my kragte gekom het weet ek verseker, maar ek het geweet dat verloor nie ʼn opsie was nie en ek sou tot op die laaste baklei. Met 10 meter oor slaag ek om vir Manie weer verby te gaan. Die tyd 3min 57,1 en Manie 3min 57,2. Nie eens SA kampioenskappe daarna kon dieselfde adrenalien na vore bring as daardie aand se wedloop nie. Manie was destyds al ʼn vriend van my en ek sou daardie aand glad nie wou oorhȇ andersins as om saam met ʼn vriend die eerstes te word wat die baanbreker tyd kon aanteken nie. SA kampioenskappe kon soveel anders verloop het. Ek moes net vir Manie saam met my daar gehad het dan het ons die 1500m 1ste en 2de plekke gewen, maar Manie het besluit om op Rugby te konsentreer en is nie saam SA’s toe nie. Elke enkele atletiekbyeenkoms van 1981 en 82 was uitsonderlik. Daar was die 2 goue medaljes in die driehoekige kompetisie in stormsterkweer in Bloemfontein tussen SWA,Natal en die Vrystaat. Die twee goud op Sasol teen twee sterk Menlopark atlete was ook iets spesiaals. Die twee Menloparkmanne het twee weke later op SA’s elkeen ʼn goue medalje verower. Hulle het vir twee items ingeskryf waarin ek nie deelgeneem het nie. Hulle het darem vir my gecheer op SA’s. Die byeenkomste in SA was almal besonders, omdat ek altyd, tydens opwarming op die baan was wanneer my twee gunsteling atlete gehardloop het. Hulle was Zola Budd en Hans van der Veen wat in die ouderdomsgroep net laer as ek was en albei het later Springbokkleure verwerf. Die WHS atlete van my tyd was almal deur die bank besonders. Elsa Carstens(fietsry) Gerhard Barnard(atletiek) en Chris Badenhorst(rugby) het almal Sprinbokkleure verwerf. Daar was al die anders wat hulle merk gemaak het, maar Sasol 1982 was die WHS seunsspan tot voor die aflosse nog in die eerste plek. Ons het egter nie ʼn aflosspan gehad nie en het algeheel tweede na Menlopark ge-eindig. Op die rugby veld het dinge ook goed gelyk maar ek het matriek net op atletiek gekonsentreer en was dus bang vir beserings. Dis baie ure se oefening wat mens weggooi met net een besering. Daar was die dag wat die eerste span teen Jan Mohr gespeel het, wat my aande lank laat wakker bly het. Gamma Bredenkamp, wat darem al ʼn hardebaard in matriek was, was my direkte opponent. Ek het vooraf besluit om hom op sy eie game aan te vat. Laat in die game is ons agter maar ʼn drie sou ons laat wen. Ek doen toe dit wat Gamma se een sterkpunt was en gaan sluit by ʼn agterlynbeweging op die anderkant van die veld aan. Dit het vir Gamma uit posisie uit betrap en vir ons die man-oor bewerkstellig. Met Ben Human aan my buitekant hol ek vir al wat ek werd is veld-af. Met net Ian Louw van Jan Mohr voor my, hoor ek skielik vir Danie van Antwerpen aan my binnekant roep. Instede om die man oor,( Ben Human) , weg te stuur doellyn toe, gaan pass ek die bal vir Danie aan die binnekant waar die kruisverdediging hom plattrek. Ek het soos die poepol van die dag gevoel. Maar ek mis nogal die tye, daar is net te veel om op te noem. Soos die keer toe iemand my uitdaag om oor die skoolswembad se seil te hardloop. Gerhard du Plooy sȇ toe hy gaan saam. Op die rand van die swembad steek Gerhard vas en ek gaan alleen. Ek spring die arme swemmers se hittehouende seil 4 pragtige langwerpige gate in. Toe ek op my rug draai en ek kyk bo na die skool se kant toe, toe kyk ek so binne in Ertjies vas. Mense ons, maar het my gat daai dag gebrand. Ses van hulle en arme Ertjies het nog na skool die gate probeer toewerk. Ek sal seker eendag opmaak daarvoor, maar die seil kos nie meer N$ 800.00 soos doei tyd nie. Nou ja, dit was net so ʼn vinnige trippie down memory lane gewees. Daar sal seker nog baie wees, hoe nader ons aan die reunie kom.
dat so n brein eendag moet vergaan
ReplyDelete