Friday, April 15, 2011

Malemaland of nie?

Julius Malema is n knaap wat nie te veel krediet deur koerante gegee moet word nie, inteendeel hulle moet hom eintlik heeltemal ignoreer en geen spasie hoegenaamd aan hom in koerante afstaan nie. Hoe meer hulle mediadekking aan hom verleen, goed, sleg of baie sleg, dit vergroot net eenvoudig sy aanhangersbasis. En hierdie meneer besef dit ten volle anders sou hy nie so gereeld dinge kwyt raak wat hy voor sy siel weet, hom weer voorbladnuus gaan maak nie. Al die mediadekking vergroot sy magsbasis op n daaglikse basis. Julius Malema, het volgens my beskeie opinie, n baie groter aspirasie as wat meeste leiers besef en dit is dat hy die krag van die ANC jeugliga wil gebruik om homself tot president te laat vorder, en hy is nie bereid om te veel jare daarvoor te wag nie. Vandaar sy uitsprake om myne te privatiseer en al die ander goedjies wat hy so gereeld voorstel. Malemaland, sal Suid Afrika se voorland wees as die media hom gaan aanhou help deur sy aanhangersgetalle te vermeerder en sodoende sy magsbasis te vergroot. Is dit nie ironies hoe naamsveranderinge in Afrika vooraf daardie land se lot deur n blote naam bepaal nie. Kyk byvoorbeeld na Zimbabwe, wat vernoem is na die bekende "ruins", wat die naam Zimbabwe eintlik beteken. En soveel jaar na onafhanklikheid is die land in "ruins". Namibia aan die ander kant is vernoem na die Namib woestyn, die oudste woestyn op aarde. Dan wil mens nie te vroeg praat nie, maar een en twintig jaar na onafhanklikheid wil dit tog lyk asof ons ook die oudste demokratiese regering in Afrika gaan word, dis nou as ons leiers gaan bly vaskleef aan die huidige grondwet en daar nie n Malema by ons sou kop uitsteek nie. Ek kan natuurlik aan Zuma die regte en enigste oplossing vir hulle tamale(ma)kie gee, maar daarvoor kan ek in die publiek gehang word, so ek sjoes maar liewer. Intussen voorspel ek maar net dat dit juis die media gaan wees wat Malema die volgende diktator in Afrika gaan maak. Die leier van Malemaland, die mees suidelike land in Afrika.

No comments:

Post a Comment