Wednesday, April 20, 2011

N$ 62 miljoen vir stryd teen korrupsie

Ons ken mos seker almal van kommissie verdien. n Verkoopsman by n motorhandelaar byvoorbeeld, verdien n klein basiese salaris en as hy dan n ordentlike besoldeging wil ontvang, dan moet hy sy vinger trek en baie verkoop sodat hy baie kommissie verdien. Dieselfde met feitlik alle ander vorm van verkoopsmanne. Hierdie kommissie is dus jou verdienste gemeet aan jou verkope. Maar dis ook jou aansporing tot groter salarisse. Nou vra ek net, moet die mense wat waarskynlik die mees belangrikste werk in n Afrikaland soos Namibia doen, nie ook so vorm van n incentive kry nie? Ek verwys weer na die antie wat N$ 72 miljoen by haar werkgewer verdoesel het. As die Teenkorrupsie mense haar skuldig bewys, sal so vorm van n kommissie nie hulle geldkas vergroot sodat hulle meer mense kan aanstel en korrupsie se euwel beter kan bedwing nie. Veronderstel hulle kry 10 % van die bedrag ter sprake, dan is hulle na afloop van die saak N$ 7,2 MILJOEN ryker. Jy kan paar ondersoekers aanstel met daardie bedrag. Ons moet besef dat korrupsie is hier om te bly, dit kan nie uitgeroei word nie, maar kan beheer word. Hoe groter die mag van die teenkorrupsie, hoe beter hulle slaankrag. Al weet hierdie mense wat hulle aan enige vorm van korrupsie skuldig maak dat hulle uitgevang gaan word, sal dit hulle nie verhoed om bedrog te pleeg nie. Hulle lewe vir die oomblik, dit wat daardie skelmgeld nou vir hom kan koop. Sy neef het daarmee weggekom, so dalk kan hy ook. Dis die attitude. Daardie eerlikheid wat jou ouers en jou onderwysers in jou ingeslaan het, het verval die dag toe sistemiese korrupsie sy houvas in die regering gekry het. Sistemiese korrupsie is wanneer goedgeorganieseerde sindikate of andersins mense met sterk familiebande die regering op belangrike plekke, soos byvoorbeeld die Polisie of staatsdepartemente wat met belangrike besluitnemingsprosesse soos tenders en dies meer werk, infiltreer. Die korruptes is dus op die ou end die wat die besluite neem en dis hulle wat met wortel en al uit die sisteem uitgeroei moet word. Die vraag is of ons die slaankrag daarvoor het en dis daarom dat ek voorstel dat daar vir die teenkorrupsie manne ekstra aansporing moet wees. Op die ou end is dit vir elke inwoner se beswil.

No comments:

Post a Comment