Monday, August 1, 2011

Augustus se storie



Die Groot Blinkoog



Deur  Ian Snyman



   “Ian, oom Willem het gehoor jy het jou werk verloor en nou het hy ʼn proposisie vir jou.”

Ek staar my vrou verbaas aan. “Die ou oom is al vir jare afgetree, watter proposisie kan hy maak wat my sal help?”

   “Hoekom gaan hoor jy nie maar nie? Jy weet ons het geld dringend nodig.”

Ek besef dat my vrou dit reg het. Ek het my werk reeds twee maande gelede verloor toe die maatskappy sy tak in Tsumeb gesluit het. Daar was nie vakante poste by ander takke beskikbaar nie en ek het reeds verskeie aansoeke by ander maatskappye gedoen en nog geen terugvoering ontvang nie. My vrou het dit heeltemal reg, ons het geld dringend nodig.

   “Ek sal vroeg môreoggend gaan.”

Oom Willem is ʼn afgetrede myner vir solank as wat ek hom ken. Sy vrou werk nog en ons het so af en toe daar gekuier. Ek het dit geniet om na sy stories te luister. Ek kon nog net nooit besluit of  ek sy stories kan glo of nie. As ʼn mens net een van die goed in vandag se lewe probeer doen, wat oom Willem blykbaar gereeld gedoen het, dan sal jy vir baie lank toegesluit word. Dit is oor die rede dat ek maar skepties was om na sy  proposisie te gaan luister.



Oom Willem drink koffie op die agterstoep van sy mynhuis toe ek daar opdaag. Die oumense het ʼn gewoonte om vroeg in die oggend al op te wees.

   “Môre oom Willem, ek hoor oom is op soek na my.”

   “Ja môre Ian, kry koffie in die kombuis dan kom sit jy hier buite.”

Ek kry ʼn lekker groot beker koffie want ek vermoed ons gaan ʼn redelike rukkie besig wees.

   “Hierdie ding dat jy nou sonder werk sit, ek dink dit kom soos ʼn bedekte seёn,” begin oom Willem nog voor ek my sit kon kry.

   “Hoe so ,oom?”

   “Jy sien Ian, jy is een van die fikste mense wat ek ken. Jy ry elke oggend die groot driehoek met daai ou fiets van jou. Hoe ver is dit? Maklik vyftien kilometer. Die myners sien jou wanneer hulle soggens werk toe gaan. Ek sien jou elke aand draf en dan speel jy nog rugby ook. Dan hoor ek jy is ʼn man wat hou van die buitelewe. Jy gaan stap gereeld in die veld.”

   “Oom Willem is goed ingelig. Ek verstaan net nie wat dit met my werkloosheid te doen het nie.”

   “Ian, ek soek al  lank na iemand soos jy. Jy kan ons altwee skatryk maak.”

   “Praat maar oom, ek luister.”

   “Party van ons myners het maar nog altyd vir ekstra geld ʼn paar klippe uit die myn gesmokkel. Meestal toermalyn wat ons dan weer aan klipversamelaars verkoop. Op dié manier het ek bevriend geword met ʼn versamelaar wat omtrent enige tipe edel- of halfedelgesteentes koop. Nou het jy seker gehoor van my ou vriend Thys wat so ontydig dood is?”

   “Ja ek het oom.”

   “Net voor sy afsterwe het Thys my een aand dringend laat roep. Hy het besef sy tyd is naby en hy wou iets met my deel. Hy vertel my toe dit wat ek lankal van geweet het, maar hy kom toe met die hele storie uit. Een keer per jaar het Thys so vir twee weke lank spoorloos verdwyn. Nou ek het geweet dat hy skelmpies in die Sperrgebied gaan diamante soek. Hy kon dit egter nooit aan sy vrou vertel nie want sy was heeltemal teen sulke goed gekant.”

   “Nou wat het hy dan aan haar vertel as hy so wegraak?”

   “Man hy het die grootste klomp twak uitgedink. Kamma gaan jag by ʼn neef in die suide waar vrouens in die pad sou wees. Dan het hy sommer ʼn klomp biltong in Windhoek gekoop op pad terug Tsumeb toe. Of hy het kamma gaan visvang in Angola en dan mag hulle nie die vis oor die grens inbring nie. Jy weet, sommer enige verskoning om  die vrou nie te kwaad te maak nie.”

   “Het hy ooit diamante opgespoor?”

   “Ian dis hoekom ek sê ek soek al lank na iemand soos jy. Thys het altyd met sy terugkoms eers vir my sy vonds gewys voordat hy die goed verkoop het. Oor al die jare het hy elke keer ʼn paar mooi klippe gekry. Ek was te oud om saam met hom te gaan. Iemand soos jy kon ek namens myself stuur en ons kon die vonds deel. Maar die groot storie is eintlik dit wat Thys my nou die dag voor sy afsterwe vertel het.”

   “Oom maak my nou baie nuuskierig.”

   “Thys het kaarte opgeteken van waar hy oral gaan klippies soek. Eendag het hy dit aan my genoem dat dit lyk asof daar ʼn patroon bestaan. Ek was nuuskierig en wou weet wat hy bedoel. Hy sê toe dat in sekere gebiede hy lank moes soek en in ander gebiede was dit vinnig. Hy teken toe ʼn paar plekke op sy kaart aan en wys na een spesifieke plek. As sy teorie reg was dan moes diamante volop in daardie gebied wees. Ek vra hom toe hoe groot die gebied is en hy sê dis maar omtrent so groot soos ʼn rugbyveld.”

   “En hy wys toe vir oom presies waar dit is?”

   “Die laaste keer wat Thys teruggekeer het, het hy my baie opgewonde vertel dat sy teorie reg was. Hy wys my toe die grootste blinkoog wat ek nog in my lewe gesien het. En toe nŏg een en nŏg een. Hy vertel toe dat daar tussen die duine  ʼn vlei gevorm het. Wanneer reёn volop was het ʼn rivier afgekom wat in hierdie vlei doodgeloop het. Wanneer die vlei se water opdroog kon hy net eenvoudig die goed optel. Dit wil voorkom asof die rivier die diamante van iewers afgebring het.”

   “En oom glo hom?”

   “Jy kan mos nie teen bewyse stry nie man. Die man het my die klippe gewys. Nou net wat my ou vriend op die vonds van sy lewe afgekom het, is hy daar in die middel van die woestyn deur ʼn adder gepik. Hy het altyd sy noodhulpkissie by hom gehad en hy kon die meeste gif uitkry. Hy het egter besef dat hy by ʼn hospitaal moes kom vir teёgif en hy het dadelik terugvertrek. Die bietjie gif wat in sy liggaam agtergebly het, het egter hulle werk stelselmatig gedoen en Thys het elke dag swakker geword. Hy het dit teruggemaak en dit het gelyk asof hy veilig is. Die gif het egter meer skade gedoen as wat die dokters kon sien en hy het skielik agteruitgegaan. Die dag voor sy dood het hy my laat roep. Dis toe wat Thys besluit om al sy aantekeninge en kaarte aan my te gee. Hy wys my toe presies waar die vlei is en hoe om te bereken wanneer om te gaan.”

   “Wanneer is die regte tyd? Ek sou reken ʼn mens moet weet wanneer die rivier afgeloop het en  wanneer die vlei opgedroog het.”

   “Jy het reg, Ian. Thys het my alles gewys. Ons bereken die reёnvalsyfers soos die weerkantoor dit deurgee en wanneer dit genoeg in een week reёn dan kan ons aflei dat die rivier sal loop. Presies drie weke daarna dan het die vlei opgedroog in die droё woestynsand. Dan is dit die regte tyd om te vertrek.”

   “So nou moet ons net wag vir die reёn?’

   “Nee Ian, dis nou die tyd om te gaan. Ek het die berekeninge gedoen presies soos Thys gewys het en die vlei behoort nou droog te wees. Die goed wag daar vir jou, jy moet dit net gaan haal.”

   “So maklik soos dit?”

   “Nee, daar is ʼn paar haakplekke.”

   “Soos wat , oom?”

   “Thys het oor die jare die gebied leer ken. Hy kon vir ʼn maand daar oorleef  as dit moes. Enige ander persoon sal maksimum ʼn week hou as hy nie reg beplan nie. Jy gaan omtrent tien dae nodig hê. Jou beplanning moet perfek wees of jy gaan een van baie geraamtes onder die duinesand word. Ons het gelukkig Thys se notas. Dit vertel presies hoeveel water en kos jy moet saamdra. Hy het oor die jare op sy pad sekere goed weggesteek wat dit vir hom makliker gemaak het om te oorleef. Sy kaart wys presies waar. Daar is egter nog een ding wat jy moet weet.”

   “Dit klink ernstig.”

   “Thys vermoed dat hy die laaste keer dopgehou is. Hy het nooit iemand kon sien nie, maar hy het die gevoel gehad dat daar iemand was. Nou as dit die polisie is dan moet jy ʼn besluit neem. Gooi die goed liewers weg, maar moet net nie gevang word nie. Jy kan altyd later weer gaan maar in die tronk gaan jy vir ons niks werd wees nie.”

   “Dis reg oom Willem. Kan ek die notas en die kaarte kry om my beplanning te doen?”

   “Ian, dis nie dat ek jou nie vertrou nie, maar as jy iets oorkom dan kan ek nog altyd iemand anders instuur. Ek dink dis veiliger dat die goed by my bly. Bestudeer alles hier en teken jou eie kaart. Kan ek op jou vertrou dat jy nie met die klippe sal verdwyn nie?”

   “Natuurlik oom, ek weet mos nie waar om sulke goed te verkoop nie en oom het die koper. Oom het die kennis en ek doen die werk. Ons deel die wins.”

   “Nou goed kom ons skud hand daarop.”

   “Goed oom Willem, en moet tog nie die vroue vertel wat ons beplan nie.”





Ek het dadelik aan die werk gespring. Die meeste toerusting, soos ʼn ordentlike rugsak, waterbottels en goeie stapskoene het ek reeds gehad. Ek het blikkies kos gekoop en alles in die rugsak gepak. Daarna het ek die kaart en die notas van Thys bestudeer. Dit sou geen maklike taak wees wat voorlê nie. Thys het aantekeninge gemaak van dinge soos hittegolwe, skuiwende sand en sandstorms. Alhoewel oom Willem dit reg het dat ek baie fiks is, is ek nie vertroud met die toestande wat in die woestyn op my wag nie. Ek is beboste gebiede gewoond waar water maklik bekombaar is. Nietemin het ek die geld dringend nodig en ek was bereid om die kans te waag vir kitsrykdom.

   Ek het Tsumeb vroeg die volgende oggend verlaat. Thys se notas was baie presies en hy het gereelde aantekeninge gemaak van hoe lank hy van een punt tot ʼn volgende gereis het. My eindbestemming sou wees vyftig kilometer suid van Homeb en veertig kilometer wes van die Randberge, in die hartjie van die Namib Naukluft Park. Die Randberge was skynbaar die oorsprong van die rivier wat die vlei gevoed het. Dit was ook die punt waar ek die motor moes versteek en my staptog begin.

   Dit was maklik om ʼn goeie wegsteekplek vir die motor te vind. Die berg het baie inhamme en ek was ʼn redelike ent binnekant verbode gebied. Op grond van Thys se notas het ek my rugsak oorlaai met tweeliter plastiekbottels vol water. Aanvanklik sou ek swaar dra maar die plan was om met elke dag se stap een bottel langs die pad te versteek. Dit sou my vrag ligter maak en terselftertyd verseker dat daar wel water op my terugtog beskikbaar is.

   Die eerste dag het ek gesukkel. Ek moes gereeld die kaart en notas bestudeer om te verseker dat ek in die regte rigting loop. Thys se beskrywings was vir homself bedoel en ek het party notas verkeerd vertolk. Gaandeweg het ek egter sy denkrigting begin verstaan en kon ek vinniger vorder. Thys het die gebied goed geken en hy kon gedurende die nag stap wanner dit koeler in die woestyn was. Ek moes egter soek vir bakens wat hy op sy kaart aangedui het en was dus geforseer om deur die dag te stap. Laatmiddag het ek op die plek afgekom waar hy skynbaar gereeld oornag het. Na ʼn paar minute se soek het ek op die plek afgekom waar hy tydens die meeste van sy vorige togte ʼn paar goed vertseek het.

   Daar was halfgedrinkte waterbottels, ʼn ou graaf en beddegoed. Thys het op sy terugkeer van sy oortollige bagasie hier gelos omdat hy geweet het dat dit slegs ʼn dag se stap terug tot by die motor was. Dan het hy op ʼn volgende tog minder goed saamgedra en hierdie plek as ʼn basis gebruik van waar hy sy soektog geloods het. Toe het sy groot geluk saam met die ongeluk gekom.

   As alles volgens plan verloop sal ek nog drie dae vorentoe stap. Die vyfde dag sal ek die droё vlei fynkam en dan is dit weer vier vol dae se stap terug. Dié nag het dit koud geraak en ek het besluit om van Thys se beddegoed saam te dra vir ingeval dit kouer raak dieper die woestyn in. Ek het twee van my vol waterbottels gelos en Thys se klomp bottels gebruik om een bottel vol te maak.

   Met die eerste lig was ek reeds weer op pad. Ek het genoeg water gehad en kon genoegsaam drink. Die harde heuwelagtige gebied het platter geraak en toe het die sandduine gekom. Aan die einde van die tweede dag was dit net sand om my. Die altyd beweginde sandduine het dit onmoontlik gemaak om iets weg te steek. Tog het Thys aangedui dat hy water gelos het vir sy terugtog. Ek wou nie die kans waag om ʼn waterbottel te los en met my terugkoms dit nie te vind nie.

   Aan die einde van die vierde dag het ek voor ʼn duin te staan gekom wat volgens Thys die einde van my tog sou beteken. Daar was egter geen teken van ʼn vlei nie. Moeisaam het ek teen die duin uitgeklim. Die hitte van die laaste vier dae se stap het my erg uitgeput en die eensaamheid in die woestyn het aan my begin vat. Meeste van alles was die sand wat alewig by my skoene ingekom het en aan my voete geskaaf het. Met die son wat laag in die weste sak bereik ek die bokant van die duin. Ek maak ʼn waterbottel los van die rugsak af en drink lank aan die louwarm water. Dan sien ek die vlei, reg voor my, tussen die duine en amper die grootte van ʼn rugbyveld. Vanaf die bokant van die duin kan ek nou die pad sien wat die water invloei tussen die duine deur uit die rigting vanwaar ek gekom het. Instede van met ʼn kompas rigting te hou en oor elke duin in my pad oor te klim kon ek maar net in die inloop gestap het. Dit sou darem my stap terug vergemaklik.

   Ek hardloop opgewonde teen die duin af en kom amper halfpad in die opgedroogde vlei tot stilstand. Ek vee met my hande deur die boonste lagie waaisand en skaars ʼn minuut later kry ek dit. Nie Thys of oom Willem het oordryf nie. Ek sit met ʼn bielie van ʼn diamant in my hand. Ek kan skaars wag om verder te soek maar besluit om by my aanvanklike beplanning te bly en die hele volgende dag te gebruik om die vlei te fynkam.

   Dit is harder werk as wat ek gedink het. Ek lê plat op my maag en fynkam die grond deeglik sonder om ʼn stukkie oor te slaan, maar ten minste is dit die moeite werd. Die diamante is volop net soos Thys beweer het en afgesien daarvan is hulle boonop nog groot ook. Dis ʼn lang dag in die skroeiende son en warm sand maar teen die einde van die dag het ek net oor die tweehonderd diamante by my. Ek dink aan die ou dae toe hulle by Kolmanskop laas so volop diamante in so ʼn klein oppervlak letterlik net kon optel. Ek is egter bly hulle het nog nooit hierdie plek gevind nie, want dit beteken meer vir my en oom Willem.

   Vroeg die volgende oggend is ek reeds op pad terug. Ek is opgewonde en ek vorder vinniger op my nuwe roete tussen die duine deur. Ek kan meer eet en drink as met die kom slag en bereik die laaste oornagplek binne net twee en ʼn halwe dae. Ek het volop water en kos oor en besef nou hoekom Thys hier water kon agter los. Ek los self ook alle oortollige water en kos vir my volgende keer en hou net genoeg by my vir die laaste dag se stap terug motor toe.

   Dit is vandag net so warm soos al die vorige dae in die woestyn, maar ek voel skaars die hitte. My rugsak is lig en my kop is vol somme. Ek probeer uitwerk hoeveel die diamante werd is, maar ek het te min ondervinding van diamantpryse. Nogtans droom ek al oor wat ek met my deel van die geld gaan maak. Maar eintlik is dit nie meer drome nie, want ek het hulle nou by my. Al twee honderd blinkoё is in die rugsak by my.

   Dit moes die dagdrome en die uitputting van die laaste paar dae se stap gewees het wat my waaksaamheid laat verslap het. Skaars ʼn honderd meter van my motor af hoor ek ʼn geluid agter my en toe ek omkyk tref iets hard en swaar my oor die kop. Dit raak alles donker en ek val in ʼn diep slaap weg.

   Ek het geen idee hoe lank ek daar gelê het nie en dit was met ʼn geweldige kopseer wat ek wakker geword het. Nodeloos om te sê maar die rugsak en die diamante daarin was weg. Die motor was darem nog daar. Gelukkig het ek die sleutels daar naby versteek en nie by my in die rugsak gedra nie.

   Die pad Tsumeb toe was lank en stadig. By die huis het ek in die bed geklim en geslaap. Ek wou niemand sien nie, maar ek het geweet dat ek een of ander tyd by oom Willem sou moes aangaan.  Twee dae later het die pyn in my kop beter gevoel en ek het besluit om die slegte nuus aan oom Willem oor te dra.

   Oom Willem drink weer koffie op die stoep wanneer ek daar aankom.

   “Wat gaan met jou kop aan en hoekom lyk jy so bekaf?”

Ek verduidelik breedvoerig aan oom Willem wat alles gebeur het vanaf ek hom laas gesien het.

   “Goeie genugtig man, jy sê dit was meer as tweehonderd diamante?”

   “Ja oom Willem, en hulle was groot.”

   “Nou het jy dan niemand gesien nie?”

   “Nee oom, ek het iets gehoor en die volgende oomblik tref iets my teen die kop.”

   “Twee honderd diamante, magtig man dit kan amper ʼn miljoen rand werd wees.”

   “Ek is jammer oom, ek moes meer op my hoede gewees het, maar ek was al amper by die motor en ek was baie opgewonde.”

   “Ja Ian, dis natuurlik dieselfde mense wat vir Thys ook dopgehou het. Onthou jy dat hy die gevoel gekry het dat iemand daar was.”

   “Ek onthou ja.”

   “Ons moet maar weer beplan sodat jy later weer kan gaan.”

   “Nee oom. Ek gaan nie weer nie. Ek het gister van ʼn groot maatskappy gehoor dat hulle my van die einde van die maand af in diens neem. Die ding wat met die diamante gebeur het, het my ook oortuig dat ek liewers vir my geld moet werk. Ek kan bly wees dat ek nog lewe. Wie my ookal beroof het kon my netsowel vermoor het.”

   “Dit is waar ja. Gee vir my vanoggend se koerant wat daar langs jou op die tafel is. Ek dink dan ek het netnou iets daarin gelees van diamante.”

   “Op watter bladsy, oom.”

   “Gee hier dat ek gou soek.”

   Oom Willem neem die koerant en na ʼn rukkie se soekwerk begin hy praat.

   “Hier is dit. Hulle skryf hier dat vier Namibiёrs gister in ʼn motorongeluk in Suid Afrika dood is. ʼn Kop aan kop botsing met ʼn vragmotor net anderkant Ariamsvlei. Al vier insittendes is oorlede. Die vier mans was vermoedelik op pad om ʼn diamanttransaksie te gaan doen iewers in Suid Afrika. In die voertuig is meer as tweehonderd diamante aangetref . Ja Ian, dit lyk vir my jy is reg, ons moet maar liewers die diamante los. Die goed sal ons net doodmaak.”

No comments:

Post a Comment