Tuesday, August 2, 2011

Deuriek$%

Kyk, ek spog nie sommer oor myself nie, maar in dieselfde asem spot ek ook nie met ander mense nie, eerder met myself. So hierdie skrywe moet julle mooi verstaan, die eerste deel is nie spog nie, dis net om te wys dat ek nie altyd, soos in die laaste gedeelte, deur die k%$ is nie.

   Is julle nou lekker deurmekaar? Die storie pas so inmekaar. Aan die begin van Standerd ag is ons vakkeuses gegee, maw jy kies watter vakke val weg en watter bly. Ek is egter nooit toegelaat om my keuse uit te oefen nie. Ek wou net L.O. en Houtwerk behou, maar Jan Meeser verplig my toe om Afrikaans,Engels, en Biologie te neem. Daarby neem ek toe Wiskunde,Aardrykskunde en Houtwerk.

   Hulle wou my ook nie Boekhou in die plek van Wetenskap gee nie, praat van demokrasie. In elk geval dit was toe tydelik my vakke, want een mooi daggie toe maak ek ʼn onskuldige opmerking teenoor Boel Dreyer rakende my punte in die Wiskundeklas en toe moer hy my skooltas by sy klas uit. Ek wou nog toi-toi toe moer hy my agterna by die deur uit. Asof dit nie genoeg is nie toe pluk hy nog die interkom se luidspreker van die muur af en gooi my met die amper teen die kop.

   “Gaan soek vir jou ʼn ander vak”, was sy laaste woorde aan my.

   Ek stoot toe maar met my gekrenkte binneste af voorligting juffrou toe. Die wil nog met ou Boel gaan praat toe deel ek haar mee dat hy niks van wiskunde af weet nie. Hoe de hel kry jy al jou antwoorde reg maar jou punte is minus 4? Dis daaroor wat ek iets gesȇ het wat my amper kop eerste in die vlagpaal laat beland het.

   Voorligting se juffie pluk toe daar ʼn boek so dik soos die oorspronklike Bybel uit haar kabinet uit en begin daardeur te blaai. Haai Shame, die arme vrou raak amper aan te huil nog voor sy deur die eerste gedeelte is. Dis toe heeltyd my persoonlike leȇr. Julle skrik vir julle morsdood as julle sien wat die mense alles van jou af geweet het. Vanaf jou IK toetse se uitslag tot jou alkohol verbruik is alles daarin. In my geval is dit toe my IK wat die vrou so liries maak. Sy voel toe dis haar plig om vir my te wys wat my IK is, aangesien ek nie daarvolgens op skool gepresteer het nie.

   Ek moes kamma Dokter of Prokureur word met so IK. Pleks sy noem iets soos Ginokoloog, dan kon dit my dalk motiveer. Dink net, dan kon ons op die reunie oor parras gepraat het. Elk geval, die IK het my toe reeds vir Mensa laat kwalifiseer en die vrou kon nie so IK met sulke lae punte bymekaar bring nie. Ek het daai verstand vir atletiek gebruik man, of het sy gedink atlete is dom?

   Maar dis nou die einde van daardie onderwerp, dit was nou net om te motiveer dat ek nie deur die k$% is nie.

   Nou die hoofstorie; Elke oggend, omtrent 5h30 het Snymantjie opgestaan en sy tekkies aangetrek, natuurlik hardloop klere daarby. Dan sluip ek saggies buitekant die huis om sodat ek niemand wakker maak nie. In die hoek van die erf vang Attie se kraai die beweging en dan raas hy, “Attie, jy moet opstaan!”

   Nou is ek in die pad, daar onderkant van die ou Nictus gebou af en dan op in die hoofstraat op tot bo by die polisiehoofkantoor, daar draai ek links en bo in oorlede Leutwein straat weer links, voor WHS verby en dan by die Duitse kerk bultaf terug huis toe. By die huis sluip ek weer om die huis; Attie, jy moet kom eet, raas die kraai weer, al slaap ou Attie nog dik stukke.

   Dit was elke oggend se roetine, behalwe Sondae, dan was dit langpad, vanaf die grondpad anderkant Daan Viljoen in tot by die skool. Volgende is dit ʼn koue stort, dan skoolklere en dan laat waai ek net om die draai tot by Ampie Louw se huis. Daar wag ek so minuut of twee of party keer wag hy al vir my. Daarvandaan stap ons saam die pad op skool toe.

   Hierdie een spesifieke oggend is alles dieselfde as al die ander dae, behalwe daar voor Ampie se huis. Ek wag en ek wag en ek wag, maar Ampie kom nie te voorskyn nie. Die karre dreun hier by my verby waar ek in skoolklere met boeksak en al die tyd op my horlosie staan en dop hou. Toe ek sien ons gaan dit nou nie meer betyds maak nie, toe glip ek by hulle erf in en loop om die huis na Ampie se buitekamer toe. Daar klop ek aan die deur en wag totdat ek so ʼn deur die slaap stem hoor antwoord.

  “Jy moet kom jong, ons gaan laat vir skool wees,” laat ek hoor.

  Die volgende oomblik pluk Ampie die deur van binne af oop.

   “Is jy deur die kak, dis Saterdag vandag,” sȇ hy. Dis toe dat ek besef Attie se kraai het vanoggend dan net gelag toe ek daar verbysluip.

No comments:

Post a Comment