Wednesday, August 10, 2011

Polisiemanne


Die baas van ʼn groot firma is een Saterdag by die kantoor om agterstallige werk in te haal toe sy rekenaar skielik op pak, soos die goed mos van tyd tot tyd maar maak. Hy bel dus sy IT man, wat nie Saterdae werk nie.

   ʼn Sagte kinderstem antwoord egter die pa se selfoon in ʼn fluister toon.

   “Is dit meneer Kotze se telefoon?” vra die baas.

   “Ja,” fluister die stemmetjie aan die ander kant.

   “Is jy sy kind?” vra die baas.

   “Ja,” antwoord die kind saggies.

   Kan jy die telefoon vir hom vat asseblief?” vra die baas.

   “Nee,” antwoord die kind.

   “Hoekom nie?” vra die baas nou effens omgekrap.

   “Hy is besig,” fluister die kind.

   “Waarmee?” vra hy nou kwaaierig.

   “Hy praat met die Polisieman,”fluister die stemmetjie.

   “En jou Ma?” vra die baas nou weer bietjie bekommerd.

   “Sy is besig om met die ander Polisiemanne te praat,” fluister die kind.

   “Hoor hier boet, wat maak die polisiemanne daar by julle?’ vra die baas nou baie bekommerd.

    “Hulle is almal op soek na my, maar hulle sal my nooit kry waar ek wegkruip nie.”

No comments:

Post a Comment