Helde en helde
Deur Ian Snyman
Dit is 26 Augustus 2003 en in Namibiё vier ons vandag “Heroes’ Day”. Op die televisie is die President van Namibiё, Sam Nujoma besig om ʼn groep mense toe te spreek. Ek luister vir ʼn paar minute na sy toespraak.
“We are gathered on sacred ground where our heroes and heroines are laid to rest, therefore, before anything else, i would like to call upon all of you to stand and observe a minute of silence in memory of our heroes and heroines whom we are honouring today.”
“As we reflect on the heroic deeds of those who shed their blood and sacrificed their lives,........” en dan begin ek wonder, wie is ons helde en wie is wérklik ons helde.
Dit is Oktober 1986 in die noorde van Suidwes. Op sy plaas omtrent 20 kilometer suid van die Oshivelo hek klim Henk Prinsloo uit sy plaasbakkie en stof sy velhoed teen sy broek af. Hy was heeldag op die lande besig en is vuil, honger en moeg. Die vooruitsigte vir reёn is belowend en hy is reeds vir die afgelope week besig om sy lande plantgereed te kry. Hy haal sy jaggeweer voor uit die bakkie en in die laaste skemerlig doen hy eers sy daaglikse roetine inspeksie. Hy sluit die hoё hek wat sy hoofingang na die plaaswerf is. Dan patrolleer hy die groot hakiesdraadheining wat reg rondom die plaasopstal gespan is. Hy kyk dat sy honde versorg is en dan gaan hy die huis binne.
Vandat die oorlog uitgebreek het, amper tien jaar gelede, is die plaasboere in die noorde se vryheid erg ingeperk. Swapo se Planvegters het gereeld oor die grens vanaf Angola ingesyfer en terreuraanvalle in die land kom loods. Nog erger was dat terroriste hulself as plaaslike bevolking voorgedoen het en sodoende in staat was om maklik hul teikens te bereik. Die boere moes noodgedwonge hoё heinings span en ekstra waghonde aanskaf.
By Henk en sy gesin was dit geen uitsondering nie en hy het feitlik nêrens sonder ʼn geweer beweeg nie.
Vanaand is Henk moeg en uitgeput. Die week se harde werk in die lande begin nou aan sy liggaam vat. In die kombuis sit sy twee kinders reeds by die eettafel aan. Hy groet sy vrou en kinders elkeen met ʼn soen en gaan was vinnig sy gesig en hande. Aan tafel lees hy oudergewoonte eers ʼn paar verse uit die Bybel en doen ʼn tafelgebed. Dit is Henk se gunsteling tyd van die dag.Gedurende ete kry hy tyd om met sy twee kinders oor hulle bedrywighede van die dag te praat. Dawie, sy tienjarige seun, is teleurgesteld omdat hy nie bedags saam met sy pa mag werk nie. Marie, die sesjarige dogter, is tevrede om by haar ma te bly maar saans geniet sy haar pa se aandag terdeё.
Vanweё die oorlog is hulle as ʼn gesin nou baie meer huisgebonde as voorheen. Waar hulle vantevore oor en weer by bure kon kuier, is dit nou soveel moeiliker omdat hulle sagte teikens in die donkerte op smal plaaspaaie is. Hulle beperk hulle bewegings tot daglig alleenlik. Saans hou hulle hulself besig met speletjies en legkaarte.
Maar nie vanaand nie. Henk is moeg en wil gaan rus. Nadat hy gaan bad het gaan sê hy vir sy kinders nag in hulle beddens en dan gaan hy na buite na die enjinkamer om die kragopwekker af te skakel. Die wind het intussen opgesteek en met die masjien se harde geraas hoor hy nie die een hond se dringende gromgeluid hier naby hom nie.
Dit is amper elfuur die volgende oggend wanneer sersant Karel Labuschagne en sy span, vergesel van ʼn buurman, op die lyke afkom. Die buurman het onraad vermoed toe Henk nie die vorige aand sy kodenaam op die tweerigting radio inroep nie. Al die boere in die omgewing is per radio verbind en elke aand om negeuur roep hulle kodename in om seker te maak almal is veilig. Henk het nie gisteraand of vanoggend ingeroep nie en die buurman het die polisie ontbied.
Henk se bloedbesmeerde lyk het hulle digby die enjinkamer gekry. Hy is verskeie kere met ʼn bajonet gesteek. ʼn Koeёlgat is duidelik tussen sy oё sigbaar waar hy op sy rug lê. Hy het reeds swak, van al die bajonetsteke, in die posisie gelê toe hulle hom tereggestel het met die enkele skoot tussen die oё. Sy vrou en kinders se lyke is in die slaapkamers gevind. Almal op ʼn soortgelyke manier vermoor. Die honde was feitlik almal voor die voet afgemaai. Slegs een of twee kon haastig in die donkerte verdwyn toe die kort maar bloedige teregstelling uitgebreek het.
Lappies, sersant Labuschagne se algemene noemnaam, is bleek wanneer hy vanuit die huis te voorskyn kom. Die lykie van die blondekopdogtertjie het die geharde polisieman hewig onstel. Tot in haar bloedbesmeerde toestand kon hy sien hoe ʼn pragtige kind sy moes wees. Watter bedreiging kon sy moontlik vir ʼn groep gewapende mans inhou dat hulle haar soveel kere met bajonette moes toetakel.
“Thys, ons gaan hierdie moordenaars opspoor,” sê hy aan sy vriend en kollega naaste aan hom, “verdeel die manne in twee groepe en laat hulle die gebied rondom die huis verken. Ons soek hierdie moordenaars se spore en ons gaan op daardie spore bly totdat ons hulle vastrek.”
Thys gehoorsaam onmiddelik sy bevelvoerder se opdrag en dis skaars dertig minute later toe die spoorsnyers die spore vind.
“Hulle gaan noord, sewe stelle spore en hulle beweeg baie haastig,” kom beduie die een Oshiwambo spoorsnyer.
“Goed, julle bly op daardie spoor en maak seker dat julle hom nie verloor nie,” antwoord Lappies die spoorsnyer en dan wend hy hom tot die buurman,” het jy miskien vir ons ʼn lugfoto van die area?”
“Kom ons kyk in Henk se kantoor, daar is een teen die muur vasgesit,” antwoord die buurman en dan volg hulle hom vinnig na binne.
“Thys, die spore gaan noord. Dus moet hulle oor die Oshivello kaplyn gaan. Ek skat hulle sal so reguit as moontlik beweeg, daarom kan ons aanneem dat hulle omtrent hier oor die kaplyn sal kruis,” beduie Lappies op die kaart voordat hy verder praat. “Al die bosse is daar uitgekap so ek reken ons sal die spoor maklik daar optel. Gaan jy en jou manne vooruit en soek die spoor langs die lyn. As julle dit kry roep my oor die radio . Op daardie manier sal ons vinnig op hulle kan inhaal. Ek bly solank op die spoor net vir ingeval hulle van rigting verander,” beduie Lappies op die lugfoto en dan stap hy vinnig die huis uit.
Wanneer Lappies by sy Caspir kom deel hy vinnig ʼn paar bevele uit en dan sluit hy te voet by die spoorsnyers aan. Hy wil sy aandag op die spore bepaal sodat hy die gesig van die bloedbesmeerde meisie uit sy geestesoog kan kry, maar hy kom gou agter dat dit nie werklik help nie. Die blondekopdogtertjie se gesiggie bly voor hom opdoem.
Dit is net na een die middag wanneer Lappies na sy Caspir geroep word. Hy word oor die radio gesoek. Dit is Thys wat al sewe spore steeds bymekaar by die kaplyn gevind het. Hy en sy manne bly solank op die spoor en hy sal laat weet as die spore van rigting verander, maar op die oomblik lyk dit asof hulle die kortste en reguitste pad na die Angola grens volg. Thys gee vinnig vir Lappies sy posisie per ruitverwysing en dan bestudeer Lappies sy eie landkaart. Thys is ongeveer vyftien kilometer Noord van hom en dit is omtrent nog ʼn honderd kilometer soos die kraai vlieg tot by die Angola grens. As die spore reguit bly beweeg dan het Lappies ʼn kans om hulle voor die grens in te haal voordat die son vanaand sal sak.
Lappies beveel sy spoorsnyers om op die Caspirs te klim en dan jaag hulle reguit Noord met ʼn sandpad langs wat hy weet aan die Westekant van Thys se posisie is. Sestig kilometer verder draai hy Oos van die sandpad af en beveel sy spoorsnyers om weer na die spore te soek. Lappies is oortuig dat hy baie naby aan die spoor moet wees omdat hy kort-kort met Thys in kontak gebly het en die het hom verseker dat die spore steeds reguit vorentoe gaan. As hy die spoor nou vind sal dit beteken dat hy omtrent veertig kilometer voor Thys is en sodoende baie vinnig tyd op die moordenaars se spore inhaal.
Dit is skaars twintig minute later toe sy spoorsnyers opgewonde geluide begin maak en skielik Noord begin draai. Lappies se berekeninge was reg. Hulle het die spoor weer opgetel en volgens die spoorsnyers is die spore nie ouer as twee ure nie. Lappies kontak onmiddelik vir Thys per radio en gee hom sy nuwe posisie deur. Hulle is nou amper vyftig kilometer van die grens af en die spoor is ongeveer twee ure oud. Dit beteken dat die moordenaars halfpad tussen hulle en die grens kan wees. Die moordenaars sal die gebied ken en hulle sal tersefdertyd probeer om Weermag- en Polisiebasisse te vermy. As hulle op hulle huidige koers hou dan lyk dit asof hulle tussen die Ekoko en Mpungu nedersettings wil deurglip.
Lappies huiwer op die oomblik oor wat hom nou te doen staan. Hy weet dat daar Weermagbasisse voorkant geleё is. Hy kan hulle hulp inroep om die moordenaars tussen hierdie twee nedersettings te probeer afsny. Hyself kan nie met sy manne op die spoor bly en dan nog tyd inhaal op die moordenaars nie. Hoe nader hulle aan die grens kom hoe vinniger gaan hulle beweeg en sy spoorsnyers kan nie so vinnig inhaal sodat hulle betyds die grens gaan maak nie. Hy kan ook vir Thys van agter af laat verbygaan en teen die grens laat probeer afsny maar die kanse is te groot dat die moordenaars so iets sal vermoed en naby aan die grens van rigting sal verander. Die ander probleem waarmee hy sukkel is dat dit al namiddag is en hy sal die moordenaars voor donkerte moet aankeer of hulle gaan gedurende die nag die grens oorsteek na veiligheid toe.
Vandat Lappies drie jaar gelede by die Polisie aangesluit het, het sy kop net na een kant toe gestaan. Hy wou Koevoet word. Sy aansoek was goedgekeur en sederdien is hy permanent in die Noorde van die land werksaam. Hy was al in menigte skermutselings met die vyand betrokke en het nog elke keer ongedeerd daarvan afgekom. In sy werk het hy al menigte dooies gesien maar die lyke van die seun en meisie van vandag het iets in hom geroer. In enige ander geval sou hy reeds hulp ingeroep het om hierdie moordenaars voor te keer. Maar vandag voel hy anders. Hy wil persoonlik by wees wanneer hierdie moordenaars aangekeer word. Hy het egter nie baie tyd aan sy kant nie. Dit gaan oor ʼn paar uur donker word en die grens kom al hoe nader vir die moordenaars. Hy wil ook nie as gevolg van sy persoonlike gevoelens veroorsaak dat die moordenaars ontglip nie.
Teen die tyd dat Thys met sy manne by hom opdaag is Lappies se planne uitgewerk. Hy kontak die Weermag per radio en verduidelik korliks dat hy spore volg wat op pad na die Angola grens toe onderweg is. Hy versoek hulle om patrollies tussen Ekoko en Mpungu op te stel wat die gebied kan patrolleer en hy sal van agter af kom en die moordenaars binne in hulle soldate se netwerk in forseer. Die Weermag belowe dat hulle juis patrollies in die gebied het en dat hulle onmiddelik in daardie gebied volgens Lappies se versoek ontplooi sal word. Aan Thys gee Lappies weer ʼn ander opdrag. Hy en sy manne moet aan die Oostekant van die spoor Noord jaag tot net voor Mpungu. Daar moet hulle skerp Wes draai en keer dat die moordenaars nie in daardie rigting ontsnap nie. Een Caspir bly agter op die spoor en moet per radio laat weet as daar enige verandering in rigting plaasvind.
Lappies self gaan met twee Caspirs Wes van die spoor opjaag tot net voor Ekoko. Die Weermag sal dus Noord van die moordenaars voorkeer. Thys is aan hulle Oostekant en beweeg Wes om hulle na Lappies se kant toe te forseer. Lappies weet uit ondervinding uit dat die Weermag met hulle Buffelvoertuie ʼn masiewe lawaai gaan opskop en dit gaan die moordenaars in die versoeking stel om van rigting te verander. Of Oos na waarvandaan Thys gaan kom of Wes na waarvandaan Lappies sal kom. As Lappies baie gelukkig is dan is al sewe moordenaars vanaand nog gevang.
Wanneer Lappies sy posisie net voor Ekoko bereik is Thys reeds in posisie net voor Mpungu. Hulle draai soos afgespreek en begin dan na mekaar toe beweeg. Hulle is omtrent vyftig kilometer van mekaar af en Lappies het uitgewerk dat hulle nou ʼn entjie voor die moordenaars moet wees. Teen die tyd wat die moordenaars in die Weermag se web gaan inbeweeg sal hy en Thys reeds heelwat nader aan mekaar wees. As die plan slaag en hulle verander van rigting dan sal dit of na Thys of na Lappies toe wees. Lappies bly per radio in kontak met die Weermagtroepe en met Thys. Intussen laat weet sy spoorsnyer van agter dat daar nog geen verandering in die rigting van die spore is nie.
By Lappies laai die spanning nou op. Hy weet teen die tyd al wat volgende gaan gebeur. Hy, Thys of die Weermag gaan binne die volgende halfuur kontak maak. As hy ʼn afleiding kan maak uit wat hy vanoggend op die moordtoneel gesien het, dan kan die sewe moordenaars nie te swaar gewapen wees nie. Almal van hulle het waarskynlik ʼn AK 47 en een van hulle kan moontlik iets soos ʼn RPG7 dra. Die spoed waarteen hulle beweeg het dui ook aan dat hulle niks swaar saamdra nie.
En Lappies is gereed. Iemand wat klein onskuldige kinders so wreed kan vermoor, verdien nie regtig om gevange geneem te word nie. As daar van die moordenaars se kant af geskiet gaan word, dan sal sy manne beslis nie huiwer om terug te skiet nie.
Dit is ʼn halfuur later en Lappies raak nou bekommerd. Hy en Thys moet reeds baie naby aan mekaar wees en nog steeds is daar geen teken van die moordenaars nie. Nog drie minute later en dan verskyn Thys se Caspirs vanuit die bosse skaars twee honderd meter voor Lappies. Thys verseker hom dat hy beslis nie oor die spore beweeg het nie en Lappies glo hierdie vriend van hom uit ondervinding uit. Thys kan amper net so goed spoorsny soos enige van die beste spoorsnyers in Lappies se span.
Intussen laat weet die manne van agter, wat steeds op die spoor is, dat daar geen afwyking van rigting is nie. Die moordenaars het geen poging aangewend om hulle spore te versteek nie. Hulle beweeg in die oopte en hulle beweeg baie vinnig. Die manne oortuig vir Lappies dat die moordenaars feitlik by hom moet wees. Lappies het geen idee waar om nou te soek nie. Dit wil voorkom asof hy en Thys te vinnig beweeg het en die moordenaars afgesny het voordat hulle by die Weermag se patrollies kon uitkom. As hy nou na agter begin soek dan sal dit beslis die moordenaars forseer om van rigting te verander en dit kan hy nie toelaat nie. Die son sit reeds laag en as Lappies weer van vooraf moet begin spoorsny dan sal die moordenaars beslis die voordeel van die donkerte gebruik om oor die grens te ontsnap.
“Thys, my ou maat, ons het nou ʼn probleem. Wat stel jy voor?” vra Lappies aan die man met wie hy al soveel kere saam op ʼn spoor was.
“Ek vermoed dat hulle dalk stadiger begin beweeg het as gevolg van die baie Weermagpatrollies in die omgewing. Dit is dus moontlik dat hulle nog steeds in dié rigting kom maar dat hulle stadig beweeg om te wag vir die donkerte. Dan kan hulle maklik oor die grens glip. Ek stel voor dat ons die Caspirs hier los met een man om die voertuie op te pas. Die res van ons beweeg te voet reguit Suid. Ons loop dalk reg van vooraf in hulle vas omdat hulle nie die gedreun van die Caspirs sal hoor nie.”
“Jy het dit reg, Thys, dis ons enigste kans. Neem elke man net sy geweer en so veel as moontlik patrone. Ons loop verspreid langs mekaar. Thomas, jy het die beste oё, jy loop voor ons uit,” deel Lappies vinnig bevele uit en dan begin hulle vinnig in ʼn suidelike rigting te loop.
Die manne is tjoepstil. Hulle weet dat een woord of ʼn verkeerde geluid nou die hele operasie kan verongeluk. Thomas, die Oshiwambo spoorsnyer, loop ongeveer dertig treё vooruit. Lappies het volle vertroue in hom. Hulle was reeds in ʼn paar kontaksituasies saam en ʼn dapperder kryger as hy sal jy nie sommer kry nie. Lappies was al baie kere bly dat hy saam met hom baklei en nie teen hom nie. Hulle het omtrent twee kilometer gevorder toe Thomas vinnig en geluidloos tussen die grasse wegsak. Lappies reageer onmiddelik en op sy teken sak almal vinnig grond toe. Saggies seil hulle nader totdat Lappies en Thys langs Thomas tot stilstand kom.
“Tala (kyk),” sê Thomas saggies in Ohsidonga.
Lappies loer tussen die grasse deur maar hy wil nie sy kop te hoog lig en sodoende hulle posisie weggee nie. Hy kon egter in die skemerlig vlugtig die gestaltes uitmaak van mense wat reguit in hulle rigting beweeg.
“Aantu yangapi?” vra Lappies saggies aan Thomas.
“Hulle is sewe mense, dit is hulle wie ons soek,” kom die antwoord.
“Hoe vêr?”
“Popepi(naby).”
“Ons vat hulle lewendig,Thomas.”
“Aawe, tate, hierdie keer ek hoor jou nie.”
Die geluid van die sewe aankomende moordenaars is skaars hoorbaar toe begin Thomas te skiet. Eers lê hy stil en skiet vinnig en akuraat en toe spring hy orent en skiet terwyl hy nader aan die verstomde moordenaars hardloop. Lappies en die ander manne moet noodwendig sy voorbeeld volg en voor die moordenaars eens ʼn enkele skoot akkuraat kon afvuur toe is alles oor. Al sewe lê roerloos terwyl Thomas van die een na die ander loop en seker maak dat hulle dood is.
“Thomas, ek het gesê dat ons hulle lewendig moes vang.”
“Tate Lappies, toe ek nog klein was, my pa het by daardie plaas gewerk.”
“Watter plaas?”
“Daardie plaas waar ons vanoggend was. Daardie boer wat daar doodgemaak was, ek en hy het saam gespeel toe ons kinders was. Daardie man, Henk, hy het my geleer om met die geweer te skiet. Ek het hom geleer om my taal te praat en hy het my julle taal geleer. Sy pa was goed vir ons en toe kom hierdie oorlog en toe moes ons trek van die plaas af. Hierdie mense het my vriend doodgemaak en sy vrou en kinders. Hulle mag nie lewe nie, sê ek, Thomas die vriend van Henk.”
Dan draai Thomas om en stap terug in die rigting van die Caspirs.
Op die televisie gaan die president nog steeds voort met sy toespraak,.............................
.........”Our heroes and heroines whom we honour today have completed their duties with honour and dignity...........”
.....en weereens wonder ek, wie is nou werklik ons helde en wie nie.
No comments:
Post a Comment