Ek is ‘n pa. Soms moet ek my soos ‘n pa gedra. In die ou dae was dit albasters, tolle en ketties. Dinge het verander. So twee weke gelede fluister die twee stoutgat buurkinders oorkant die straat mos die woorde "GOLD REEF CITY " vir my laaitie.
Nou wat kan ‘n man nou doen? Jy gaan maar GRC toe. Oukei, so beloer ek mos hulle webwerf. Nananana, lyk heel mak, hier en daar ‘n ry en ‘n rol of twee. Ek wil in elk geval ook in die myn afgaan. So trek ek my plakkies aan, kam my hare en daar gaan ons, die hele fendêmillie.
Ons kom nogal vroeg daar aan. Ek kap manhaftig twee worsbroodjies weg, en ‘n halfliter melk, en besluit om maar die pa-seun voetjies-vleg ding te doen en ry saam met sy eerste rit genaamd die Wegholtrein. Eers gedink die ding is vir kleuters, tot hy sywaarts ook begin beweeg. Effe ongemaklik gevoel toe ons afklim. Waggel toe maar agter die mannetjie aan na die volgende een. Hoor hom voor ek hom sien. Klink soos n Boeing wat land.
Toe gewaar ek die groot naambord: Anakonda!
Ek het al gehoor van die goed. Nog net n tuinslang van naby gesien. Maar nou ja, ek's mos die PA van die huis, dra die broek, issie ‘n sissie nie. Ek maak my arms bak, en ek loop fier en regop teen die dekplank op. Ek gaan die donner ry. Wat kan nou eintlik verkeerd gaan? Eerste fout is die lang tou waarin jy moet wag. Gee jou kans om te sien wat doen die ding aan mense.
Toe hy die tweede keer kom stop, klim daar so ‘n jong student af met spiere waar ek voue het. Hy skiet ‘n kat net daar oor die reling. Nou weet ek, my twak is uitgeknip en afgerol vir my. Ons beurt. My klein snotneus trek kleinkoppie, maar ma kyk my uit. Dis hier waar 'n mens maar maak of jy windgat en manlik is. Hou my ken hoog en knyp die boude styf.
'n Mens klim in die ding en maak soos ‘n vlermuis, jy hang half onderstebo. Die veiligheidstaaf wil nie oor my hoenderborsie nie, so toe hou ek maar my lyf Ville Valo, en maak myself dun. Haak die belt een gaatjie te styf . . . dink ek. KLANG KLANG KLANG KLANG . . . en kom ons neuk nie rond nie . . . skielik is ek so bang dat ek ‘n nieraanval kry . . .
Dan draai die etterse ding en dan MOER HY NA BENEDE MET DIE SPOED VAN DIE HEILIGE FLIPPEN WIT ELAND. Glo my maar, vergeet van enige kar, bike, vliegtuig of wat ookal jou maatstaf is waarmee jy manlikheid meet, die ding gee gas soos niks wat ek al ooit gevoel het nie. Maar of dit nou nie genoeg is nie, gaan voeter die ding onderstebo met jou. Ek voel daai worsrolletjie hier teen my ribbes. Nee wag, ek voel sy tekstuur, elke enkele veseltjie en grein van hom.
Kêrels, ons kom uit daai eerste draai met die spoed van flippen wit lig. Ek wil hê hy moet stop. Ek bid vir die eerste keer in 22 jaar. Dit werk, ons maak weer gelyk. Toe slaan ons daai tweede kurwe. Korter radius as die eerste. Ons moer so vinnig daar deur dat ek een van my plakkies verloor.
Eers onderstebo, dan deur twee reghoekige draaie waartydens ek tien jaar ouer word. En toe kurk-flippen-trekker hy met ons. Klits daai flippen broodjie en die melk laat dit lyk soos daai gemors wat jy oor bobotie gooi. Nog ‘n draai en, ag te hel daarmee, traak nie wat vroutjie of die wêreld van my dink nie, toe skree ek soos ‘n Namibiese vlaktevlermuis wat se sonar gekalf het.Ons kom daai stasie binne teen 200 km/h en net vir die grap en net vir die pret, briek hy doodstil binne 10 tree. Ek sit net daar, versteend, te bang om te roer. Alles in een slag verloor. My trots, my valstande en my worsbroodjie.
Vroutjie wil nog soos ‘n wafferse Eva, ooo! en aaa! en kom ons ry weer die slang, maar ek bly dikbek en naar en hou voet by stuk ek wil huis toe gaan.
Die slang in die paradys was sekerlik ook ‘n Anakonda
No comments:
Post a Comment