Friday, August 5, 2011

Vlieende slange

In Texas, Amerika, daai groot plek wat nie sy skuld kan betaal nie, is daar n eensame stuk pad tussen twee dorpe, soos die wat mens altyd in die movies sien. Omdat Texas se klimaat so lekker warm is, is die reisigers daar lief om hulle motors se dakke af te slaan en dan met die oop dak te ry, ook maar soos ons altyd in die flieks sien.
Maar ook in hierdie ongerepte stuk aarde is daar inwoners wat deel van hierdie storie uitmaak. Nou nie human sapiens tipe inwoners nie, daarvoor is die gedeelte te woestynagtig, ek praat van vlieende en seilende tipe inwoners. Amerika is mos darem bekend vir sy "Rattler" slange. Dis nou daai goggas wat soos pofadders lyk en snaakse rattler klanke met die punt van hulle sterte maak. Trap jy op so slang, of binne pik-afstand van hom, dan sal jy weet jy is gepik. Hierdie slange is vol-op in die omgewing en daar word beweringe van slangplase gemaak. Wat eintlik gebeur is dat die skoner geslag slange, indien moontlik, ek verwys na die wyfie slange, op hitte kom dan los hulle n reukie agter wat die manne nader lok. So gebeur dit dat hulle hordes in dieselfde gebied voorkom. In ander gevalle sal n spesifieke voedselbron hulle ook dig in een omgewing laat saamkoek.
Dan kry ons die vlieende goeters, daar in die verre land, wat minder bekend aan ons plaaslik is. Hulle het Raptors en Condors en sulke tipe voels waarvan party jag maak op slange. Hierdie geveerde vriende, (enige iets wat n slang dood is n vriend van my),  se bene is so deur die natuur toegerus dat die slangbyt hom nie kan skade aandoen nie. Die voels het n baie interessante taktiek deur die jare ontwikkel om die slange maklik te dood. Hulle kom swoop hier van bo af op die niksvermoedende slang en gryp hom stewig in sy pote vas, dan vlieg hulle hoog met die prooi die lug in op en laat val dan die slang wat deur die slag op aarde gedood word. Die voels het ook deur die jare geleer dat hoe harder die oppervlak waarop die slang val, hoe makliker dood dit. Daarom is hulle veral lief om die slange in die teerpad te laat val.
Dit is nou waar mens,slang en voel bymekaarkom in hierdie storie. Dit gebeur dikwels dat n niksvermoedende reisiger in sy afslaandak tjor diep ingedagte op die langpad reis, net om die volgende oomblik n giftige slang hier op hom te vind. Wel partykeer op die windskerm, ander male op die passasiers sitplek en somtyds op jou kop of skoot. Vandaar dat die mense daar rond van vlieende slange praat. As dit met my gebeur?
Ek dink die mense sal nog vir jare daarna lag oor die ou wat homself en sy hele kar bekak het.

No comments:

Post a Comment