Saturday, July 30, 2011

Poepol in die toilet

My ou vriend, Isak Smit, vertel my gisteraand hierdie enetjie;

Hy ry eenkeer vir die werk die 1500 kilometer hier af Kaap toe. Soos dit maar op die trippies gaan eet hy ook maar hier n hamburger en daar n koeldrank en n lunchbar en teen die tyd wat hy by Van Rhyn's Dorp kom toe besef hy dat sy stertkant nou n toilet sal waardeer.
Hy trek toe in by die eerste diensstasie in die dorp en gaan parkeer sommer reg voor die toilette. Soos dit maar met meeste van ons ou army en poliesmanne is, kyk ons darem n vreemde plek eers uit voor ons net instorm. Met die sien hy die ou wat hier duskant die toilet rondhang. Hy let ook dat dit die enigste ou in die omgewing is. Hy hoop maar net dat die ou nou nie n geleentheid Kaap toe wil bum nie, want ons Suidwesters kan mos nou maar eenmaal nie sulke versoeke weier nie. Maar in ons getroude manne se geval, waardeer mens so af en toe n 1500 kilometer se stiltebreek waar man bietjie met sy eie gedagtes kan verkeer.
So is hy toe die toilet in en hy merk so terloops dat die dorpie se bouers die selfde probleem as alle ander dorpies s'n het. Hulle kan mos nie meet nie. Die toiletdeure is altyd te kort vir die opening wat dit moet toemaak. Maar hy is in, trek broek af en kry sy sit. Soos dit enige ordentlike mens betaam is dit nou die een plek op aarde waar man van sy stilte hou en hy is bietjie omgekrap toe hy hoor hoe die vreemdeling die toilette inkom, hy kom bedel seker nou sy lift Kaap toe, en dan hoor hy ook sommer hoe die man met die deur in die huis val.
"Gaan jy Kaap toe?" vra die man.
"Ja," antwoord Isak hier vanuit sy hokkie uit.
"Wat gaan maak jy daar?" kom die vraag.
"Besigheid vir die werk," antwoord Isak.
"Hoe lank sal jy daar bly?"
"Ag seker drie of vier dae," antwoord Isak weer.
"Sal jy die WP teen die Bulle kan gaan kyk?" kom die volgende vraag.
"Nee, die werk koop nie kaartjies vir sulke goed nie," antwoord Isak.
Dan hoor Isak hoe die ou anderkant sy hokkie die volgende kwytraak;
"Jong, kom ek bel jou maar later terug, hier binne in n toilet sit n poepol wat al my vrae beantwoord.

No comments:

Post a Comment