Friday, July 1, 2011

Die roadblok (Julie maand se storie)

Die Roadblok



Deur Ian Snyman



   Dit was vroeg in die nuwe eeu toe hierdie verhaal hom afgespeel het. Daar was al baie lank na die Polisie en die Weermag as ʼn sirkus verwys en omdat hierdie so ʼn tipe storie is, moet daar natuurlik ʼn aap ook in die storie wees, of miskien sommer twee.

   Omdat almal in Namibiё bang vir almal is en niemand bang vir niemand is nie, sal dit seker gepas wees om eers te verduidelik voordat ons met die eintlike storie begin. Omdat die regerende party bang is vir aanvalle vanaf vyande wat nie bestaan nie, het hulle allerhande beskermingsmaatreёls ingestel rondom teikens wat ook nie regtig teikens is nie. So word die hele munisipale verkeerskorps byvoorbeeld opgekommandeer en by alle straathoeke staangemaak as die President ʼn draai wil gaan ry. Die hele Windhoek word dan tot stilstand geruk totdat die man dan sy eindbestemming bereik het.

   Eintlik is ons almal lief vir hom en sou ons hom graag op ʼn fiets wou sien ry, sodat ons so in die verbygaan ʼn paar woorde met hom kon deel. Net so word die Weermag jaarliks uitgebrei om die land te beskerm teen aanvalle. Watse aanvalle? Die elf Capriviane wat die Caprivi wou afstig met twee AK,s en drie ketties. Die helfde van daardie elf weet dan kamma niks van enige aanval af nie.

   So is almal dan bang vir almal. Net so is niemand dan ook bang vir niemand nie. Die skurke, boewe, inbrekers, moordenaars en verkragters word glad nie afgeskrik deur niemand nie. Nie deur die Polisie nie, nie deur die President wat hulle al vir jare lank dreig nie en selfs nie deur huise met die duurste beskermingsfoefies op die mark nie

   Daar is kamma ʼn Munisipale Polisie ook, maar vir hulle het ons almal vooraf geweet, sal niemand skrik nie. Net nog ʼn werkskeppingspoging wat deur die belastingbetaler gefinansier word. Die skelms self is ook eintlik niemand nie. Hulle betaal nie belasting nie en dra ook nie by tot die vooruitgang van die land nie.

   Dis eintlik net die regering wat so bietjie bang is vir hulle. Dis immers hulle wat die eerste by die stembusse opdaag en sekermaak dat dieselfde regering aan bewind bly wat hulle so lekker vertroetel. Noudat ons so wye draai deur die land gemaak het is dit tyd om meer spesifiek te raak. Ons storie speel af by een van die padblokkades rondom Windhoek wat sy ontstaan gehad het omdat almal bang is vir almal. Een van daardie plekke waar hulle seker maak dat jy ʼn “Dlivers License” in die kar het. Jy kan maar dronkbestuur en oorlaai, maar moet net nie probeer om dit sonder jou bestuurderslisensie te doen nie.

   Hierdie Roadblok was op die C26 geleё. Die pad hier aan die Westekant van Windhoek wat by die Munisipale asgate verbygaan Walvisbaai toe. By hierdie huisie langs die pad het ʼn ene Shikongo diens gedoen. Omdat hy nêrens anders in die mag positief aangewend kon word nie, was hy feitlik permanent hier gestasioneer. Shikongo het sommer so ent weg van die roadblok af vir hom ʼn slaapplekkie in die veld gemaak. Op die manier was hy feitlik altyd betyds op sy pos.

   Eendag het ʼn tragedie daar naby afgespeel wat Shikongo se lewe en die omstandighede rondom die padblokkade baie geraak het. By die vullisstortterrein daar naby bly heelwat troppe oorlams bobbejane. Een van dié moederbobbejane het ʼn baie ongehoorsame kleintjie gehad. ʼn Regte stoutgat. ʼn Regte bobbejaan. Hierdie kleintjie se naam was Johny.

   Aan die anderkant van die teerpad, daar in Regenstein se berge, het weer ʼn ou tierwyfie gebly. ʼn Regte beneukte ou kat vol iesegrimmigheid. Die betrokke dag het die bobbejaantrop en die tierwyfie toe in mekaar se grondgebied beland. Klein Johny, met sy ondeundheid, haak toe af en gooi die tierwyfie met ʼn klip teen die kop. Tierwyfie reageer toe deur Johny se ma storm te loop en met een klap breek sy die bobbejaan se nek. Die hele trop skrik so groot dat hulle elkeen hulle eie rigting in vlug. So gebeur dit toe dat toe Shikongo daardie aand by sy slaapplek opdaag, hy die verskrikte klein Johny bobbejaan daar onder die komberse aantref.

   Nou Shikongo se hele familie is feitlik almal uitgewis deur daardie klein kiem wat so hard byt, naamlik Vigs. Omdat hy niemand meer in die lewe oorgehad het nie, besluit hy toe om die kleine Johny aan te neem. Die arme bobbejaantjie word toe Johny Shikongo, die seun van konstabel Shikongo.

   Van daardie volgende dag af het Johnyboy elke dag saam met sy pa vir diens gaan aanmeld by die Roadblok na Walvis. Johny het ʼn lae profiel gehandhaaf en in die skadu van die afdak het hy gesit en kyk wat sy pa maak elke keer wanneer ʼn motor kom stilhou. As die motor vanaf Windhoek se rigting aankom, dan het Johny se pa altyd in die pad gaan staan en stadig rondom die voertuig gestap. Hy het so ongemerk van buite af die dinge van belang binne in die kar opgesom. Reis hierdie mense na ver dan was daar altyd iets te ete en te drinke in ʼn koelboks gepak. Johny se pa het die kuns verfyn om dan hierdie mense se dag vir hulle bietjie onsmaaklik te maak.

   Die gevolg was dat hy dan altyd met koeldranke en kos van die kar af teruggekeer het. ʼn Kar van Walvis se kant af is egter anders benader. Baie van hierdie was gewoonlik beneukte boere wat in die Gamsberge se rigting boer. Shikongo het hierdie manne versigtig en uitgeslape benader.

   “Hulle het nie dalk daar by Meneer se kant skelm gejag nie? Ek het net vanoggend vroeg hier “poachers” gevang. ʼn Hele koedoe agterop , tate, ʼn hele koedoe.”

   Natuurlik is Shikongo dan beloon vir sy goeie werk met ʼn paar stukke biltong en droёwors en selfs vleis ook. Ja nee, Johny se pa het geweet hoe om met die boere se koppe te werk. En Johny het by sy pa geleer.

   Vir twee jaar het hulle hierdie pos beman. Johny het sommer ʼn groot bobbejaan geword en hy kon sy pa later woordeliks na-aap. Partykeer wanneer sy pa ʼn bietjie lui was dan het Johny sommer self die karre voorgekeur en dan so ʼn bietjie gebedel en sommer ook terselfdertyd gekyk dat die bestuurder darem sy lisensie by hom het. Sy pa het vir hom ʼn ou kamoefleerpet en ʼn Polisie-reenjas geskenk wat hy dan so lekker laag oor sy ore getrek het. So goed was hy dan gekamoefleer dat een ou tannie eendag aan haar man opgemerk het dat hierdie nuwe konstabel darem ʼn vriendelike knaap is.

   Die padblokkade is nie baie deur die manne van Windhoek besoek nie want hulle het geweet dat Shikongo daar is en vir homself sorg. Toe hulle wel eendag die plek besoek het hulle die nuwe konstabel opgemerk maar hulle het gedink dis hoofkantoor wat die nuweling soontoe gestuur het. Die manier hoe Johny op ʼn plastiekstoel agteroor gelê het, wanneer sy maag dik ge-eet was, en dan die aankomende motors verbygewuif het, het niemand laat onraad merk nie. Johny was nou deur almal as ʼn polisieman aanvaar.

   Die padblokkade se tyd het egter uitgeloop sonder dat Johny of sy pa dit besef het. Die manne van Windhoek het eendag opgedaag terwyl Johny met ʼn hardelyf in die veld gesukkel het. Shikongo is opgelaai en hulle het vertrek sonder Johny. Omdat hy nie op die boeke gelys is nie het niemand navraag oor hom gedoen nie. Shikongo is verplaas na Rundu en die padblokkade is tydelik gesluit vir ʼn onbepaalde tydperk.

   Johny het nie geweet wat aangaan nie, maar getrou aan sy soort, het hy maar net elke dag sy werk voortgesit en sy luilekker lewe bly leef. Niemand maar niemand wat die pad gebruik het, het ooit onraad vermoed nie. Dit het ʼn ou polisieman in Windhoek gekos om agter te kom dat daar ʼn fout ingesluip het. Die man het eendag vriende op hul plaas in die Gamsberg besoek en toe gemerk dat die pos nog beman word. Hy het die saak aan sy hoofkantoor gerapporteer en hulle het die arme Johny laat haal.

   Wat sou van die arme bobbejaan word wat geen ander lewe as die van ʼn padblokkade ken nie?

  

   Ek het gister uitgery lughawe toe om vriende weg te neem. By die padblokkade net voor die afdraai na Heja Lodge het iets my aandag getrek. Op ʼn plastiekstoel voor die klein kantoor het ʼn polisieman half dwars uitgestrek in die stoel gesit. Op sy skouers het iets geblink. Dit was duidelik die kentekens van iemand wat rang dra. Op sy kop was ʼn netjiese polisiepet laag oor die ore getrek. Met ʼn netjiese stel wit tande het hy vir my geglimlag en beduie om te ry. Ek kon sweer dat dit dieselfde vriendelike konstabel was wat ek eendag by die padblokkade op die C26 ontmoet het. Die enigste verskil was dat hy nou ʼn offisier was.

No comments:

Post a Comment