Wednesday, July 27, 2011

Badtyd

   Ek glo mos daaraan dat daar nie DStv in die huis moet wees nie (behalwe world cup tyd), want dan sit almal heeltyd voor die tellie. Dit nou terwyl ek die volle pakket by Multichoice teen halfprys kry. Ek en mams gee net soveel meer aandag aan mekaar en aan die kids as wanneer die tv aan is. Die gevolg is dan seker dat ek nog die tipe kinders groot maak wat kettie skiet en met pa se lere op die huis se dak klim, dis nou ʼn 4 jarige meisie en haar 2 jaar oue boetie. En dan sit ek later self met die gebakte pere wanneer mams op die pad is, maar glo my ek lief die twee stouters met al hulle manewales, en toe breek Maandagoggend aan.

   Sondae neem ons gewoonlik dvd’s uit (dit kos my meer as wat DStv sou kos) en dan kyk ons dit almal saam voor die flatscreen in die kamer, almal in die queensize bed met net koppe wat bo die duvets uitsteek. Nou Sondag was dit The Tourist met Johny Depp (my gunsteling akteur) en Angelina Jolie (my minder gunsteling) en teen 9hoo is dit ligte uit en die hele spul is vas aan die slaap. Die gevolg is dat toe mams Maandogoggend ses-uur op is toe is almal uitgeslaap en wakker. Toe mams nog in die bad sit toe is albei die hobbits saam met haar in die bad en pappa moet noodgedwonge gaan stort, heel aan die ander kant van die huis.

   Mams is uit die bad uit en blaas hare droog, poeier wat gepoeier moet word en begin skooltassies pak. Pappa skeer, sjampoe, seep en skip die poeier besigheid. Toe ek uit die stort uitkom word ek amper deur mams uit die pad uit gehardloop. Die stoot daar deur die gangetjie oppad kamer toe soos een wat onverwags met haar skelmpie betrap is en die gou in die kas wil gaan wegsteek. Toe ek in die kamer kom sal ek voel dat my voete nog papnat is, maar toe ek hulle weereens wil afdroog, toe sal ek sien waaroor mamma se hollery gaan. Die hele kamer is toe onder water en dit lyk kompleet soos Sun City se valley of the waves soos die branders uit die badkamer uit kom. Ek hol toe ook maar met beperkte noodhulp kennis om die arme bloedtjies te gaan help, daar waar hulle sekerlik deur die gebarste geyser wat heel uit die dak uit geval het en hulle in die bad vaspen. My magtig mense, toe ons daai badkamerdeur teen die steeds stygende water oopgestoot kry, toe is dit asof jy twee Jack Russel hondjies betrap daar waar hulle besig is om jou sitkamerbank se kussings uitmekaar te skeur. Dis net vier verskrikte groot oge, daar waar die twee in die bad staan, elkeen met ʼn gabba in die hand, besig om die bad se water uit te skep. Hulle moes dit op hulle een video, Nim’s Island gesien het. Die helle, dis vandag Woensdag en daardie mat is nog steeds papnat. Haai shame, nie ek of mamma kon dit oor ons harte kry om hulle gatte te slaan soos hulle daar gestaan en lag het nie. Eers net ʼn verskrikte glimlag en toe hulle sien ons slaan nie, toe lag hulle behoorlik.

   Nou ja, elke donker wolk het ʼn silwer rant en in ons geval , wel dit sneeu nie en ons gras vrot nog nie van die baie reen nie.


No comments:

Post a Comment