Monday, July 25, 2011

Reunie spyt

Dis amper ongelooflik watter tipe uitwerking ʼn beoogde reunie op verskillende tipes persoonlikhede teweeg bring. Mens het op skool (in ons geval 29 jaar gelede) sekere voorkeur vriende gehad. Dit was hoofsaaklik as gevolg van sekere omstandighede soos byvoorbeeld, klasindelings, sportkeuses, voorstad waar jy woonagtig was en ander belangstellings.

   Rugbyspelers het outomaties met mekaar gemeng, soos ook tennisspelers, netbal, hokkie, atlete, ens. Klasmaats was meer bekend as kinders van ander klasse. So was ek byvoorbeeld vertroud met name soos Reho Maartens en Ertru en Rika en,en,en, maar tog het ek hulle nie persoonlik geken nie omdat ons paaie nie gekruis het op die sportveld of in klasse of in ons besonderse woonbuurte nie. Ons was ook nie saam in die koshuis nie, die ander plek wat baie mense se lewens op sy eie unieke manier laat kruis het. Ek dink koshuiskinders het ʼn besonderse band tussen hulle gehad wat ons dorpskinders nie gehad het nie en hulle het ook meer persoonlike goeters met mekaar gedeel.

   Dan weer, daar waar ons ʼn klaskamer vir jare saam gedeel het, was dit ook maar taamlik oppervlakkige kennis wat jy van party maats opgebou het. My groot klasmaats was natuurlik die wat min of meer dieselfde belangstellings gehad het. Ons was nie rokjagters nie, maar definitief ook nie skeef nie, maar net bietjie skamer en meer teruggetrokke op die gebied van meisies as wat met ander manne die geval was. Of dalk was dit ons gebrek aan kennis op die gebied wat veroorsaak het dat ek en paar van my seunsmaats die skooljare moes afsluit as “virgins”. Of so dink ek. In my eie geval is ek seker, doodseker, maar vir my maats kan ek mos maar net op hulle woord gaan. Nie dat ek dit vandag anders sou wou gehad het nie, ek is nogal trots op my virgin status, nie gedrink nie, nie gerook nie en wel nie gespyker nie. Tog dink ek parykeer,wat sou gewees het, as dit anders was?

   In elk geval, seuns of meisies, daar was die wat dom was, die wat slim was, en die wat ge-ekspirementeer het en die wat nie het of wou nie. Ek is nie spyt  oor my keuse, willekeurig of onwillekeurig nie. Wat ek wel oor spyt is, is dit wat ek reeds in ʼn vorige skrywe gegorrel het, en wel my gebrek aan die tyd wat ek aan die ander kinders spandeer het. Dat ek nie meer kinders leer ken het en “in touch” gebly het nie.

   Nou met die oor en weer skrywery, ontvang ek baie e-posse in ʼn persoonlike hoedanigheid. Met ander woorde, ek skryf iets en stuur dit aan die hele naamlys, maar ek ontvang antwoorde wat slegs na my e-pos gestuur word en dus nie met die ander gedeel word nie. Hierdie boodskappe is almal opbouend van aard en elkeen het sy eie besonderse boodskap. Party hou van die grappender tipe skrywes en ander verkies die dieper dinge. Die kern vir my is egter dat ek sodoende mense se voorkeure en afkeure en dinge van hulleself leer ken waarvan ek nooit voorheen bewus was nie, lekker dinge en diep dinge. Dit is ook die dinge wat my weer en weer laat skryf, hierdie stille waters e-posse wat ek so onderlangs ontvang. Ek waardeer elkeen van hulle op sy eie manier. Een van hulle het my egter diep ontstel, en wel op sy eie manier en oor sy eie redes. Ek deel daardie enetjie nou met julle, amper ʼn maand nadat ek dit ontvang het:

   Die ding het so begin. Ek en mams besluit om ons eerste volwaardige vakansie sedert ons Mosselbaai-skoonfamilie-ontmoet-kuiertjie, by Myl 108  gedurende die Desember vaknsie van 2009 te hou. Ons koop tent en stoof en gas en charcoal en opblaasmatrasse en the works. Ek en sussie ry ʼn week vooruit met pappa se bakkie en mamma en boetie kom 7 dae later met mamma se kar, want sy moes nog bietjie werk. Hierdie trippie het ek breedvoerig op my blog beskryf en ek gaan dit nie nou alles herhaal nie. Maar so gebeur dit toe dat ek op die 1ste oggend uit die tent uitstap en sien dat ʼn Transvaler besig is om langs my kamp op te slaan. Met die vaalpens brandweerman loop raak ek toe teen my sin groot pelle.(Teen my sin oordat ek nie met Blou bul ondersteuners sosialiseer as ek andersins dit kon verhoed nie). Oor die man so groot liefhebber van visvang is (hy het laasjaar die wenvis van N$ 30 000.00 gewen) is ons toe ook gereeld langs die see bymekaar. Na die vakansie sy einde bereik het pak ons die groot tog weer aan binneland toe, maar die keer met ʼn effense probleem.

   Visse wat net mooi op maat van 40cm was(die minimum vereiste) is skielik nou net 39cm nadat dit gevries is. Hoe nou gemaak met die padblokkades en sy hoë boetes? Ek neem dit toe op my om die undersize goeters by my te laai en dan deur die woestyn, Boshua pas oor, terug te ry Windhoek toe en sodoende die padblokkades te vermy. Transvaler en mams moet teerpad langs en dan sort ons by die huis weer die vis uit. Dat ek nou vir ʼn  blou bul vis smokkel spreek nogal boekdele.

   Mams is egter bietjie gepla met die idée en besluit sy ry saam deur die woestyn. Seker so 80 kilometer woestynpad in merk ek ʼn 4x4 bakkie van een van die rental plekke oop bonnet langs die pad staan met ʼn paar van sy toeriste bleekvel insittendes wat daar rond hang. Ek ry so entjie verby en trek af vir mams om langs my stil te hou. Aan haar verduidelik ek toe dat ek gou wil hoor of ek die mense van hulp kan wees want hulle staan darem tussen nerens en niks en dan nog met ʼn Nissan van alle karre ook nog.

   So draai ek toe terug en hou langs die uitlanders stil. Hulle verduidelik toe(in Engels nogals) dat hulle reeds met die rental plek in kontak was en dat die reeds ʼn ander bakkie na hulle toe stuur. Die klompie lyk maar bra moedeloos, soos mens kan verwag, en ek draai my 39cm vissies terug Windhoek toe en laat waai. Erens bo op die pas sȇ ek vir mams dat die klomp eers donkertyd weer op die pad gaan kom en dan moet hulle die grondpad en bergpas in die donkerte aanpak en ek hoop hulle sal dit darem veilig maak, maar in my binnenste wens ek dat ek hulle darem op een of ander manier kon help, al was hulle dan nou uitlanders.

   So kom die nuwejaar en die volgende Desember vakansie saam met die Transvalers kom en gaan en toe breek die huidige jaar aan, maw een en ʼn half jaar later. Toe skryf ek my eerste stukkie en so ruk daarna ontvang ek ʼn e-pos daar van overseas af van een van ons ex-pats maats. Sy vertel toe hoe sy en haar gesin deur Namibia getoer het en hoe hulle rental-bakkie in die woestyn gebreek het en hoe ek en my vrou in twee verskillende karre daar kom stilhou het en nadat ek gery het sȇ sy vir haar man dat sy oortuig is dat dit Ian Snyman is en dat ek saam met haar op skool was. Wel, nie net saam op skool nie, saam in dieselfde klas vir ʼn paar jaar lank. Dit was toe al die tyd Sonnette Coetzee (nou West) en dis hoe goed ek my klasmaats onthou. Ek was omtrent geskok deur haar e-pos, ek wonder of sy ʼn idée het van wat sou gebeur as sy haarself daar weer bekendgestel het. Ek sou seker daar bly tot hulle uitgesorteer was, maar spyt kom darem gerieflikheidshalwe altyd na die tyd. Ek moes in die 1ste plek net eenvoudig uit geklim het en darem iets probeer doen het, dit sou my gewete nou heelwat ligter laat voel het.

   En so hoop ek dat ek nie langs enige van julle op straat verbystap en jou nie herken nie en dan sȇ jy vir jou maat; Die bleddie windgat, hy was saam met my op skool en nou kan hy nie eens groet nie.

No comments:

Post a Comment