Thursday, July 14, 2011

Die 3 varkies en die wolf

   Meisietjie word oor twee weke vier jaar oud. Ek besluit toe dis nou oud genoeg dat ek vir haar en boetie bedtime stories kan vertel. Die eerste een wat by my opkom is toe die drie varkies en die wolf. Daar moet mos altyd ʼn wolf betrokke wees. Ek begin toe soos die ou storie mos gaan, die 3 varkies, Piggy, Porky en Bacon wat in hulle grashuisie sit en koffie, Cappucino en hot chocolade drink. Toe kom die wolf daar aan en vra dat hulle vir hom moet oopmaak. Piggy sȇ sommer onbeskof net nee. Porky sȇ wolf moet iewers anders gaan speel. Wolf dreig toe om hulle huisie om te blaas (hoekom maak hy nie maar net die deur oop nie) en Bacon sȇ wolf moet dit bietjie try doen.

   Wolf blaas toe die huisie dat jy net gras sien trek en daar hol die arme varkies die donker nag in. Daarvandaan is dit toe mos die stokke huis en laastens die kliphuis met die skoorsteen en so aan. Almal ken mos die storie en toe wolf nou dood daar in die varkies se vuur vrek, toe vra ek vir sussie om die storie weer aan my terug te vertel.

Hier is haar weergawe;

   “Drie varkies het koffie gedrink in hulle grashuisie. Daar kom toe ʼn groot nare wolf en hy blaas hulle hele grashuisie stukkend, jy sien net gras trek. Toe vat ek al daai gras en ek gee dit vir die perd en die perd eet al die gras op en toe die gras op is toe eet hy die wolf ook op.”

   Daar het julle nou die nuwe verkorte weergawe uit die mond van die suigeling.


No comments:

Post a Comment