Wednesday, June 1, 2011

Junie maand se storie

Bobbejaan se Tier


Deur Ian Snyman



“Bobbejaan, ons wil met jou praat!”
“Bobbejaan? Jy noem my Bobbejaan? Die woord kom vanaf die Engelse woord, baboon, wat op sy beurt weer vanaf die Franse woord babouin kom, wat deur die Franse naturalis Buffon uitgedink is en hier kom staan jy met daardie parmantige houding en noem my Bobbejaan!”
“Nou wat is jy dan anders as ʼn bobbejaan?” vra Adolfina terwyl sy half verbaas voor die leier van haar trop staan.
“Wetenskaplik kan jy my seker klassifiseer as Papio Ursinus, maar ek sal verkies dat jy my liewers Oubaas noem.”
“Luister Bobbejaan, ons het nie tyd om jou varkies te help soek nie, ons is hier om ernstige sake te bespreek.”
“Adolfina my skat, ek kan sien dat jy en jou wyfie vennote vanoggend omgekrap is, maar kom ons kry gou eers die feite agtermekaar. Die Egiptiese bobbejaangod se naam was Hapi. Ek beskou myself nie as ʼn bobbejaangod nie en wil daarom ook nie Hapi genoem word nie. Al wat ek vra is dat jy en jou feministiese trawante my as Oubaas sal aanspreek.”
“Bobbejaan, Oubaas bly op ʼn plaas en Oubaas bestuur die bakkie terwyl lui lummels soos jy agter op die bak in die wind sit en die hekke moet oopmaak,” laat Adolfina nou sarkasties van haar hoor.
“Dit is baie waar wat jy sê, maar ek sien dit eintlik anders. Waar jou oubaas voor in die bakkie sit en bestuur daar stap ek voor in die trop en stuur julle. Ek maak nie hekke oop nie, magtig man, hier waar ons woon is nie eens hekke nie. Daarom verdien ek die naam Oubaas en dan is ek in elk geval ook die oudste in hierdie trop.”
“Ja Bobbejaan, jy is vol slim stories vandag, maar onthou dat Oubaas sy eie plaas besit,” tree Rebecca ook nou tot die gesprek toe.
“Dit is ook waar, maar onthou julle dat ek julle na hierdie deel van die land gebring het waar daar oorgenoeg kos en water is. Julle hoef julle nie te oorwerk nie en het eintlik ʼn lekker bestaan hier. Daarom kan ons maar aanvaar dat dit tipe van my eie plaas is. So, Oubaas sal dit voortaan wees.”
“Nee Bobbejaan, Oubaas het net die genot van een vrou daar op sy plaas. Jy aan die anderkant het die genot van amper al die vrouens in die trop,” sê Adolfina en sy glimlag vir die ander wyfiebobbejane wat in ʼn halfmaan hier voor hulle leier sit.
“Daar het jy dit verkeerd my vrou. Die vorige week toe ek so lank weg was, het ek op ʼn plaas hier naby Buitepos waatlemoene gaan steel. Die Miesies van die plaas was in die kombuis besig toe sien ek hoe die Oubaas vir Miriam in die waskamer vasdruk en soen. Die ander dag het ek weer my soettand daar op die waatlemoene gaan bevredig, toe sal ek sien hoe die Oubaas vir Anna in die skuur bykom op die sagte hooi. Gister het ek gou weer ʼn waatlemoen vir nagereg gaan haal toe is dit weer Oubaas en Susanna. Nou kyk net na die vergelyking. Hier voor my sit ʼn Miriam, ʼn Anna en ʼn Susanna ook. Kan julle nou sien hoe baie ons in gemeen het, so raak maar daaraan gewoond om my voortaan Oubaas te noem.”
“Nou goed Bobbejaan, ons sal jou vir vredesonthalwe maar Oubaas noem. Nou vertel jy vir ons wat Oubaas se planne met die Tier is.”
“Tier, watter Tier?”
“Tier, die Afrika Luiperd, Panthera pardus, die Suidwes Tier,” gee Adolfina vir bobbejaan van sy eie slimmedisyne in.
“Mag ek verneem oor wie presies wil weet en wat julle probleem met die Tier is?”
“Bobbejaan, ekskuus Oubaas, jy sit en speel net vir tyd. Jy weet presies wat ons probleem met die Tier is. Maar ons sal jou speletjie saamspeel en daarom verklaar ek hierdie nou ʼn amptelike Bobbejaan-leierskapkorps-vergadering. Dames, kom ons stel onsself voor in ons amptelike posisies en Miems neem asseblief vir ons die notules af. Ek begin sommer by myself. Ek is Adolfina bobbejaan van die Oubaas trop en ek is die voorsitster van die plaaslike VBV, die Vroue Bobbejaan Vereniging.”
“Ek is Rebecca en ek is die voorsitster van die plaaslike anti-luiperd vereniging.”
“Ek is Miriam en ek is die voorsitster van die plaaslike geslagsgelykheidklub.”
“Ek is Anna en ek is die President van die kinderwelsynorganisasie in die Ooste van die land.”
“Ek is Susanna en ek verteenwoordig die plaaslike begrafnisonderneming, Bavbob.”
“Goed, baie dankie dames en ons almal ken natuurlik vir mevrou Dominees Bobbejaan wie se hart vandag te seer is om self te kan praat en natuurlik ons sekretaresse, Miems. Die probleem ter tafel is die nege bobbejaankinders wat oor die laaste nege weke deur Mevrou Tier gevang is. Ons almal is dit eens dat dit die verantwoordelikheid van die leier van die trop is om met ʼn plan vorendag te kom en daarom wil ons weet wat presies daardie plan is,” verduidelik Adolfina.
“Dames is julle seker van julle feite? Is julle nie maar net besig om te oorreageer nie?”
“Nee Oubaas, Rebecca se man is die plaaslike privaatspeurder en hy het fotos geneem van waar Mevrou Tier ʼn kind gevang het. Susanna het jy miskien vir ons amptelike begrafnissyfers?” vra Adolfina.
“Ja, ons het gedurende die laaste nege weke die oorskot van nege bobbejaankinders ter aarde gestel.”
“Goed, dan het ons genoegsame bewyse dat Mevrou Tier skuldig is aan die dood van nege van ons kinders. Wat ons wil weet is wat jy daaraan gaan doen, Oubaas?”
“Wat verwag julle dan van my? Het julle gesien hoe lyk daardie Tier? Sy het ʼn kop so groot soos ʼn leeu en ʼn lyf amper so groot soos ʼn buffel.”
“Nou hoe klink dit dan vir ons asof Oubaas bang vir die wyfietier is?” vra Adolfina weer sarkasties.
“Nee, glad nie bang nie. Julle weet tog ek het die anderdag skeefgetrap toe ek vir die kobraslang geskrik het. Die het my amper doodgepik. Sodra ek van die besering herstel het, dan sal ek ʼn plan met die Tiertjie maak. Intussen kan julle aan die moeders wie kinders verloor het my medelye oordra en ek sal natuurlik graag help om weer vir hulle nuwe kindertjies te maak.”
“Ja Oubaas, dis presies hoe jy is. Waatlemoene vir jou soettand, maroelas vir ʼn lyfie en natuurlik seks. Maar dit stop vandag. Ek gaan onmiddelik ʼn opdrag uitreik dat geen lede van die VBV seksuele gunsies met Oubaas mag geniet nie, totdat hy finaal met Mevrou Tier afgereken het. Neem asseblief in ag Oubaas, dat alle vrouebobbejane in ʼn honderd kilometer radius lede van die VBV is, dus geen seks totdat daar geen Tier is nie.”
“Nou wag net ʼn oomblik Adolfina, ek is nog steeds die leier van die trop. Julle kan dit nie aan my doen nie. Wat sal die jong manne van my dink as ek nie meer die respek van die vroue geniet nie?”
“Dit is jou probleem. Sodra die probleem met die Tier oor is, sal jy weer geregtig wees op alle gunsies net soos voorheen.”
“Luister susters van die gemeenskap, het julle dan vergeet waarvandaan julle kom? Onthou julle dat my oupa as ʼn mak bobbejaan saam met Gert Alberts se Dorslandtrekkers na hierdie land gekom het?. Onthou julle hoedat hy by Buitepos hom oor ʼn verdwaalde wyfiebobbejaan ontferm het, hoe hy sy luilekker bestaan by die trekkers opgegee het om hom oor haar te ontferm en vir haar te sorg?. Onthou julle dat my oorlede pappie uit daardie verhouding gebore is en hoedat hy ʼn wilde lewe gelei het om vir sy boeties en sussies te sorg?. Daar was tiers en leeus wat ons familie uitgeroei het totdat net ek oor gebly het. Daarna het ek julle oudste susters as kinders by daardie tiran Bob gaan steel en julle na hierdie vrugbare gronde van Rietfontein gebring, hier waar ons die hele Bobbejaanfamilie uitgebrei het tot die getalle wat dit vandag is.”
“Dit is so Oubaas. Jou voorvaders was dapper en goeie bobbejane, maar ons begin die idee kry dat jy ons wyfies net oor een rede by Bob se trop gaan afrokkel het en dit was vir jou eie plesier. Jy het ons na hierdie plek gebring omdat dit baie kilometers weg van Bob se gebied is en jy was bang dat hy jou sou opspoor en met jou sou afreken. Dog, ons gee jou nou die geleentheid om ons verkeerd te bewys. Reken af met die tier en ons sal jou tot lewenslange leier van die trop aanvaar. Ons gee jou twee weke lank en as jy dan nog nie met Mevrou Tier afgereken het nie sal ons weer vergader en dan ons verdere besluite aan jou meedeel,” sluit Adolfina af.



Dit is presies sewe dae na die vergadering en Oubaas sit met sy hande in sy hare. Die vrouens was baie ernstig en het alles bedoel wat hulle gesê het. Hy kon die hele week nie by een van die vrouens regkom nie. Die jong vrouens het hom aangegluur asof hy siektes dra. Die ouer vrouens het nie meer stilgestaan as hy nader kom nie en het liewer aandag aan die jonger mannetjies bestee. Hy het oplaas sy geluk by ou halfdowe antie Salomie gaan probeer maar die het omgedraai en hom as ʼn vieslike vark toegesnou en dit opgevolg met ʼn taai dwarsklap. Die jonger mannetjies het dit gesien en het omtrent aan te lag gegaan.
Nou weet Oubaas dat sy dae as leier van die trop min raak, tensy hy ʼn plan met hierdie tier kan maak. Gister het sy weer ʼn jongeling gevang en vanoggend vermy die hele trop hom soos pes. Hier waar hy vanoggend op die klipkoppie langs die Rietfontein tweespoorpad sit, weet hy by homself dat hy nie ʼn kat se kans het om van die tier ontslae te raak nie. Sy is aggresief , atleties en baie sterk. Gister het sy die jongeling so vinnig weggeraap dat Piet, die privaatspeurder, net haar stert op die foto kon inkry.
Hy oorweeg dit nou ernstig om maar liewers ʼn alleenloper te word, maar waar sal hy heen. Op sy ouderdom is hy nie meer gewoond aan rondtrek na nuwe en onbekende gevare nie. Natuurlik moet hy erken dat die vroulike geslag sy groot swakheid is. As hy die jonger dames in die trop se boudjies so van agter loer dan raak hy skoon lam. Sy hart spring wild rond en hy kan nie meer logies dink nie. As hulle natuurlik vir hom terugloer dan is hy heeltemal buite homself. Om alleen weg te trek sal beteken dat daar geen vrouens naby sal wees nie.
Terwyl hy so sit en peins merk hy die ou Ford bakkie wat hier skuins onder hom by ʼn koelteboom van die pad aftrek. Twee Hereros spring uit en terwyl een die enjinkap oopmaak gaan haal die ander ʼn vyfliterblik van agterop die bakkie en dan druk hulle albei hulle koppe onder die enjinkap in. Na ʼn ruk sit een die blik langs die kar neer en sy kop verdwyn weer agter die enjinkap. Nie lank nie toe maak hulle die kap toe, spring in die Ford en daar trek hulle. Die vyfliterkan staan nog steeds waar hulle dit langs die pad vergeet het.
Nuuskierigheid is ingebore by Oubaas en hy draf teen die klipkoppie af tot by die kan. Shell helix, lees hy op die kan, hoe minder die wrywing hoe verder kom jy. Hy tel die kan op en merk dat dit nog amper half vol dikkerige vloeistof is. Olie vir petrolaangedrewe motors ken hy glad nie, maar hy gooi bietjie op sy hand uit en voel hoe lekker glad die goed sy hande maak. Maar die goed sal ʼn mens mos lelik laat gly as jy dit laat rondlê, dink hy by homself.
Hy is oppad om die kan iewers te bêre voordat iemand daarmee speel en seerkry toe die liggie vir hom aangaan. Hy soek dan juis iets om vir Tier mee seer te maak, sommer baie seer.
“Oubaas, nou moet jy jou kaarte reg speel en hierdie klomp vrouens gaan behoorlik agter jou kom aanhardloop,” sê hy hardop vir homself.
Eerstens gaan steek hy gou die kan olie in ʼn gat weg en toe haas hy hom na Piet Speurder. Piet wil eers nie met hom praat nie maar nadat Oubaas verduidelik het dat ʼn bobbejaan nie ʼn tier sonder deeglike voorbereiding aanvat nie het hy ingestem.
“Kom wys my waar Tier al die kinders gevang het,” sê hy aan Piet.
“Hulle is almal op dieselfde plek gevang daar bo tussen twee skuins rotse,” antwoord hy.
“Luister nou baie noukeurig Piet, wat ek jou gaan vertel is baie belangrik. Die toekoms van hierdie trop hang daarvan af. Ek het gedurende die afgelope weke opgemerk dat jy baie snuffelwerk rondom Mevrou Tier se bedrywighede gedoen het. Omdat ek gesien het hoe deeglik jy jou werk doen het ek jou nie gesteur met lastige vrae nie. Ek het vir Tier net kans gegee om oorgerus te word en nou is die tyd reg om haar vas te trek. Ek sal die vuilwerk natuurlik op my eie doen maar ek het so klein bietjie organisasie van jou kant af nodig. Kan ek op jou staatmaak Piet?.
“Natuurlik, Oubaas. Man ek is bly jy is terug op jou pos as leier. Almal het al begin dink dat jy net ʼn slapgat is.”
“Nee ou Pietman, ek was nog heeltyd op my pos, maar ek het gesien dat ons hier met ʼn baie slinkse tier te doen het. Die enigste manier om haar te vang sou met ʼn baie goeddeurdagte plan wees en ek het nou daardie plan. Jy moet asseblief die plan wat ek nou gaan verduidelik net vir jouself hou. Die verrassingselement is wat hier belangrik gaan wees.”
“Natuurlik Oubaas, jy kan op my staatmaak.”



Dit is presies ʼn week nadat die tier haar laaste bobbejaan gevang het en volgens Piet se somme moet sy vanoggend weer toeslaan. Oubaas het natuurlik gelieg toe hy aan Piet verduidelik het dat hy heeltyd met ʼn plan besig was, maar dis hoekom hy die leier van die trop is, omdat hy goed kan lieg. Aan Piet het hy verduidelik dat hy wat Oubaas is vir Tier gaan inwag presies daar waar sy die kinders gereeld vang. Piet moet seker maak dat hy vanoggend met die trop daardeur beweeg. Oubaas sal daar naby goed weggesteek wag, so hy moet nie rondsoek na hom en sodoende vir Tier agterdogtig maak nie.
“Oubaas, maar jy is darem dapper, sien jy regtig kans om die tier so kaalhande aan te durf?” het Piet gevra.
“Ek het al baie tiere gejag, sorg jy net dat jy jou kamera byderhand het. Ons gaan groot fotos van hierdie een laat maak,” was sy antwoord.
So dapper was Oubaas darem nie regtig nie. Hy het vroeg al wakker geword en in die donkerte het hy met sy voorbereidings begin. Nadat hy seker was dat sy plan dalk mag werk het hy gaan skuiling soek, natuurlik heelwat verder weg van die merk af as wat hy aan Piet verduidelik het. Goed versteek het hy geduldig gaan wag.
Dit was ook nie lank nie of daar sien hy vir Mevrou Tier aankom en sy gaan lê min of meer daar waar hy en Piet gedink het sy sal. Sy smelt so goed in die omgewing in weg dat Oubaas goed moet konsentreer om haar te sien. Hy verwonder hom weer aan die krag wat die tier uitstraal en hy begin twyfel aan sy plan. Wat sou gebeur as dinge skeefloop en Mevrou Tier kom liewers vir hom. Hy wil liewers nie daaraan dink nie en hy kry ook nie regtig kans nie want uit die hoek van sy oog merk hy dat die eerste bobbejane nog half deur die slaap teen die kranse begin afkom.
Soos afgespreek loop Piet heel voor en lei die ander doelbewus na waar hy hoop die tier sal wees. Al hoe nader vorder hulle aan die tier en Oubaas kan duidelik sien dat Piet maar redelik benoud lyk. Dan is Piet verby Mevrou Tier en die eerste kleinding is slegs ʼn paar meter van die merk af. Oubaas kan nou sien hoedat die tier se hele houding verander. Sy trek haar lyf in en is duidelik gereed om vorentoe te skiet sodra die eerste kleintjie voor haar verby beweeg.
Die volgende oomblik is die klein bobbejaan reg voor Mevrou Tier en sy skiet soos ʼn pyl uit ʼn boog uit haar skuilplek en storm die ongeveer vyf meter met ʼn geweldige spoed op die bobbejaantjie af. Dieselfde tyd spring Oubaas uit sy wegkruipplek uit en terwyl hy in die rigting van die tier hardloop,skreeu hy so hard as wat hy kan. Slegs vir ʼn kort oomblik huiwer die tier en dis al waarvoor Oubaas gehoop het. Oubaas het vroegoggend die hele rots waaroor die tier nou hardloop met die kan olie behandel. Die rots is seepglad en die oomblik wat die tier aarsel toe begin sy gly.
Wanneer ʼn kat aanval is hulle naels heeltemal uit en die einste naels laat gly nou vir Mevrou Tier onbeheerst oor die oliebesmeerde rots. Oubaas storm nog steeds op die tier af en maak nog steeds ʼn onaardige lawaai. Die tier is nou heel verbouereerd en sy probeer retireer maar die rots is te glad en dan beland sy bene eerste aan die onderkant in ʼn smal skeur. Dis presies waarvoor Oubaas gehoop het maar hy is nog steeds versigtig. Hy spring oor die tier en terwyl hy spring slaan hy die tier met ʼn doringtak ʼn harde hou op die rug.
Die tier sit heeltemal vas. Haar bene hang in die lug so ʼn klein entjie van die grond af en haar lyf het net mooi in die lengte in die smal skeur beland. Net haar kop, nek, rug en die bokant van haar blinkkant steek uit. Weer spring Oubaas bo-oor en weer slaan hy met die doringtak ʼn hou op die rug. Mevrou Tier spartel wild maar sy kan nêrens heen nie. Nou raak Oubaas dapper. Hy stap stadig nader en weer slaan hy. Tier sit vas, sy grom en grom maar sy is hulpeloos vasgeval.
Intussen het die res van die trop bobbejane nuuskierig nadergedrom en ʼn sirkel rondom die skouspel gevorm. Natuurlik op ʼn baie veilige afstand en elkeen op die hoogste rots of ander staanplek wat hy kon vind. Oubaas merk dit op en is intens bewus van al die aandag wat nou op hom gevestig is. Die vroue wat hom nou al vir twee weke lank vermy en die jong mannetjies wat so rammetjie-uit-nek met hom begin raak het is mos nou almal daar en nou gaan hy die geleentheid gebruik om al sy gesag terug te kry.
Hy stoot sy bors ekstra vêr uit en beveel vir Piet om nader te staan met sy kamera. Hy wag eers dat Piet die kamera gereed het en dan skenk hy weer al sy aandag aan die tier.
“Hier is een vir al die kinders wat jy gevang het,” sê hy hardop en dan laat loop hy met nog ʼn hou van die doringtak.
“Hier is een vir my twee weke van bedstres,” vervolg hy en looi die tier nog ʼn hou.
Oubaas is nou vol bravade. Hy tel Mevrou Tier se stert hoog in die lug in en kom druk sy onderlyf hier styf teen haar agterlyf.
“Maak seker jy kry hierdie foto mooi in Piet, as enige vrouens gedink het hulle kan vir Oubaas Bobbejaan probeer straf met seks dan moet hulle weer gaan dink. Ek kry sommer vir my ʼn tierwyfie om die takie te vervul.”
ʼn Groot gejuig gaan by die bobbejaanskare op. So iets is nog nie in bobbejaangeskiedenis gesien nie. Verbeel jou, ʼn bobbejaan wat ʼn tier regsien. Die skare por nou vir Oubaas luidrigtig aan en dit maak hom nou meer dom as dapper. Hy trek sy boude so entjie weg en dan stamp hy weer sy onderlyf teen die tier se agterlyf vas. Die skare maak ʼn oorverdowende geraas en Oubaas herhaal die proses oor en oor. Hy trek nog weer ʼn keer weg en stamp nou nog harder vorentoe.
“Vat so tier, laat bobbejaan se kind vir jou wys hoe dit gedoen word.”
Die olie wat hy vanoggend so vrylik oor die rotse gegooi het, het egter begin afloop na onder en tussen tier se lyf en die rotse ingesyfer. Met Oubaas se stampery van agter is hy nou besig om die tier uit die rotsgleuf uit te help. Nog een laaste stamp van Oubaas en dan word die skare skielik tjoepstil. Oubaas se oё is op die skare gerig en hy sien nie dadelik wat gebeur nie. Hy draai sy kop na die tier se kant toe en dan rek sy oё so groot soos pierings.
Sy laaste stamp was net genoeg om die tier los te stamp. Sy is nou vinnig besig om haarself uit die gleuf uit te wikkel en wanneer sy uit is draai sy om en gluur vir Oubaas met bloedrooi oё aan. Hy staan egter versteend in ongeloof. Mevrou Tier het van alles om haar vergeet, maar van twee dinge is sy intens bewus. Dit is die oneer en vernedering wat Oubaas haar vandag aangedoen het en dat daar nog fotos van geneem is daarby. Hiervoor gaan sy hierdie bobbejaan vandag doodmaak, en dan storm sy op Oubaas af.
“Ogôooo.......,” is die laaste geluid wat die skare daardie dag van Oubaas kan onthou wanneer hy omswaai en op volle vaart die berg uit is met die tier kort op sy hakke.
Blitsvinnig verdwyn hulle oor die hoogste rots met verwilderde bobbejane wat mekaar vertrap om uit die pad uit te kom. Dan storm hulle weer terug na dieselfde rots om ʼn goeie uitsig oor die gebeure te kan kry. Hulle is net betyds om te sien hoe Oubaas tussen die eerste bosse verdwyn met ʼn verwoede tier nog steeds kort op sy hakke. ʼn Lang stofstreep is al wat sigbaar agterbly en ʼn verskrikte bobbejaantrop sit roerloos en wonder of hulle moet lag of treur.
Oubaas is deeglik bewus daarvan dat hierdie tier vandag wil wraak neem. Een fout van sy kant af en net Piet Speurder se fotos van die okkasie is wat van hom sal agterbly. Tyd vir dink is daar nie, die tier probeer met elke moontlike kans om sy agterpote raak te klap. As sy daarin sal slaag sal hy val en dan sal sy hom verskeur. Elke keer wanneer sy klap dan verloor sy spoed en dan gee Oubaas ʼn bietjie ekstra. Dis reeds ʼn volle uur wat sy hom jaag en dit lyk glad nie asof sy van plan is om moeg te raak nie.
“Oubaas jy moet nou op jou voete begin dink of dis verby,” hyg hy dit vir homself uit.
Die afstand wat ʼn man op ʼn perd in ʼn uur se tyd sal aflê, het Oubaas met die tier in sy stof in die laaste vyftien minute gedoen. Nou is hy tot die dood toe moeg en die tier wil nog nie stadiger nie.
ʼn Plaaswerf, hy moet by ʼn plaaswerf uitkom, dink Oubaas nou by homself. Daar sal honde wees en daar sal ʼn kwaai boer wees en kwaai boere het groot gewere. Kwaai boere hou nie van tiere nie want hulle vang sy skape en bokke. Aan die anderkant hou hulle ook nie van bobbejane nie oordat hulle so stout is, maar dis sy enigste kans. Hy hoop net die honde en die boer sal vir die tier gaan, maar hy sal in elk geval voor wees sodat die tier alles op haar sal kry. Dis nou die honde en die koeёls, hopenlik. Dan verander hy van rigting na waar hy weet die naaste plaasopstal is.



Op sy plaas net aan die westekant van waar Oubaas die resies van sy lewe hardloop en ongeveer so twee kilometer verder, het die ou plaasboer sopas op ʼn gemakstoel langs sy swembad gaan sit. Hy het ʼn yskoue bier in ʼn lang glas oorvol geskink en het nou net die eerste teug geneem. Op die ystertafel langs die stoel is sy leesbril en die naweekkoerant wat hy vanoggend in Windhoek gekoop het. Sy ou leerhoed is ook op die tafel en sy pyp en twaksakkie is langs die glasasbak. Dit is sy voornemens om die res van die middag net hier te ontspan want hy is altyd sielsmoeg wanneer hy uit die besige winkelsentrums van Windhoek uitkom.
“Herklaas, sal jy jou luiheid laat staan en dadelik vir ons ʼn koedoe loop soek. Die kinders kom volgende naweek en hier is niks vleis om vir hulle saam te stuur dorp toe nie,” bulder sy beneukte ou vrou skielik by die agterdeur uit.
“Ek sal later gaan, laat ek net eers ontspan,” antwoord hy.
“Later lê jy heeldag en bier drink voor die televisie, want die Springbokke speel vandag, so gaan nou dadelik,” neem sy die laaste besluit,” en neem die honde saam vir ingeval jy weer ʼn bok kwes.”
Die ou oom staan moeisaam op en dan gaan hy die huis in om sy geweer te kry.



Oubaas het nou nuwe energie. Hy kan al ʼn plaaswerf se windpomp en watertoring voor hom sien uitsteek. Hy wonder of hy nou alreeds ʼn lawaai moet begin maak en of hy eers moet wag om te sien watter tipe honde daar op die plaas is. Nou net is daar dalk iets soos boerboele en dan wag hulle hom sommer van voor af in. Hy sal maar eers wag en kyk soos hy nader kom.
Wanneer hy by die oop dele rondom die plaaswerf kom sien hy hoe die plaasbakkie met ʼn spul honde agterop in die teenoorgestelde rigting wegry. Die tier is so kort op sy hakke dat hy nie kan stadiger om te dink nie. Hy moet maar net hardloop vir die huis en kyk watter plan hy daar kan beraam. Die hoё veiligheidsheining rondom die plaaswerf is skielik voor hom en dan spring hy so hoog as wat hy kan vir die bokant. Hy maak dit net en met ʼn paar klosse hare wat aan die hakiesdraad bly hang val hy verlig aan die anderkant af. Die tier is nie so gekonfyt in die draadklimmery nie en sy bly aan die anderkant van die draad staan.
Mevrou Tier se gemoed het egter nog geensins bedaar nie en onmiddelik begin sy vir ʼn deurkomplek soek. Oubaas strompel uitgeput in die rigting van die huis en verdwyn om die huishoek buite die tier se gesigsveld. Net soos hy om die huishoek verdwyn merk hy dat die tier ʼn gat langs die motorhek gevind het en besig is om deur te kruip. Hy gaan staan net om die hoek en sien die stoel langs die swembad met die lang bier en koerant maar hy kan geen mense sien nie. Hulle moes seker haastig iewers heen vertrek, dink hy by homself.
Oubaas is uitgeput en sien nie kans om verder te hardloop nie. hy loer om die huishoek en sien dat die tier al aan te snuffel besig is om nader te kom. Hy gaan sit op die boer se stoel en sit die velhoed op sy kop. Dan sit hy die leesbril aan en vou die koerant voor hom oop. Hy neem ʼn lang sluk bier vanuit die glas en haak die ou kromsteelpyp hier by die kant van sy mond in.
Op daardie oomblik kom die tier om die hoek van die huis te voorskyn. Wantrouerig kyk sy na die stoel want mense het sy nog net op ver afstande gesien.
“Verskoon tog meneer, maar u het nie dalk ʼn bobbejaanmannetjie hier verby sien kom nie?” vra sy beleefd.
“Verneem jy miskien na daardie bobbejaanmannetjie wat daar by Rietfontein die tierwyfie bygekom het?” antwoord Oubaas sonder om van die koerant af op te kyk.
“Hoe weet u daarvan?” vra die tier.
“Dit staan hier in die naweekkoerant so geskryf met ʼn foto by,” lieg Oubaas.
“Wat, in die koerant alreeds, o die skande, die familieskande,” sê sy terwyl sy die kameraflitse van vanoggend nog te goed onthou.
Die tierwyfie laat sak haar kop in skaamte en dan stap sy moeisaam in die rigting van Omitara waar sy die res van haar lewe in afsondering gaan deurbring het.
Oubaas sit en kyk haar agterna totdat sy buite sig is en dan drink hy nog ʼn lang sluk van die koue bier. Skielik bulder daar ʼn vroue stem kort agter hom.
“Maar my magtig Herklaas het ek nie lankal gesê jy moet ry nie.”
“Ja,ja,” antwoord Oubaas en dan staan hy op en begin die lang stap terug Rietfontein toe.

No comments:

Post a Comment