Wednesday, June 29, 2011

Die lewe is nie altyd maklik nie

Die lewe is nie altyd maklik nie, soos ʼn klein mislukke, arrogante, weet-als prokureurtjie die ander dag eerstehands uitgevind het. Niks teen prokureurs hier gemik nie, hierdie tipe mannetjies duik mos van tyd tot tyd in alle beroepe op. Dis mos nou jagtyd by ons en ons tjommie wil gaan springbok skiet. Hy nooi homself, tipe van, by een van sy kliënte. Die vrydag is hy in sy blink tjor hier teerpad langs Aranos se kant toe. Later is dit grondpad en later ʼn paar duine oor. Ounag het die plaasboer hom op een van die duine gaan uitsleep en om die braaivleisvuur word ʼn paar brannas met eish ja gevat. Ons tjomma blyk toe na ʼn paar brannas nie net ʼn goeie prokureur te wees nie, hy is nog beter as ʼn boesman as dit by wildbekruip kom. Hy bekruip ʼn bok blykbaar tot so naby dat hy later moet agteruit weer om die bok in die teleskoop te kan kry. Die plaasboer hoef blykbaar nie te komkommer nie, hy sal sommer self die volgende dag sy bokkies man-alleen gaan haal. Die oggend vroeg maak die boer hom wakker en gee hom die slegte nuus dat die bokke nie aan ʼn boom vasgemaak wag nie, hy moet hulle nog gaan soek. Prokkies reken aangesien hy net kopskote skiet sal spoorsny op gekweste bokke baie tyd bespaar, so hy wil gou eers sy 270 dodelik reg inskiet. Twee bokse patrone later kan hy ʼn groepering van omtrent ʼn bok se blad grootte skiet en hy is reg om te gaan jag. Na ʼn uur se ry kry hy ʼn mooi ram deur sy Tasco gesien en hy begin die groot bekruip. Hy trap amper op ʼn pofadder met die dat sy oë op die bok gefokus bly. Hy skiet eers die pofadder en merk dan dat die ram die loop geneem het. Nou is dit terug kar toe en die gesoek na bokke begin van voor af. Heelwat later kry hy weer ʼn troppie springbokke teen ʼn lyndraad en op omtrent 300 meter waag hy ʼn skoot in die trop in. ʼn Dragtige ooi is die ontvanger van die loodpunt en sy spring twee keer hoog die lug in. Die eerste sprong is aan die eienaar se kant van die plaas en die tweede sprong is anderkant die lyn aan die buurman se kant. Die ooi struikel-hardloop so 80 meter weg van die lyndraad af en slaan dan dood neer. Ons prokkie klim oor die draad en gaan haal sy bok. Met die bok oor die skouer op pad terug draad toe kom ry die eienaar op hom af. Die ou boer was toevallig besig om sy lyndrade om te ry om te kyk vir gate waar jakkalse kon inkom. Die prokkie tjomma van ons is bietjie omgekrap in die stadium, want die ooi se bloed het sy duur jaguitrusting en sy paar kamoefleer jagstewels met bloed bemors. Die ou boer kom hou langs hom stil en klim in ʼn redelik goeie luim uit die Cruiser uit.

“More, en waar gaan jy met my bok?” vra hy die prokureur.

“Jou bok? Ek het hom anderkant die draad gekwes en hy het die kant toe oorgekom waar ek hom net kom haal het. So dis my bok.”

“Hy is nou in my veld en dit maak dit my bok en jy oortree hier op privaatgrond.”

“Luister ou oom,” sȇ ons maat nou omgekrap, “ek is een van Windhoek se beter prokureurs, indien nie die beste nie en daar is nie ʼn manier hoe jy my in die hof gaan wen oor hierdie bokkie nie, so kom vat my dan maar hof toe as jy wil.”

“O, prokureur, hof ha? Maar nee jong, dis nie hoe ons die dinge hier rond doen nie,” sȇ die omie nou met sy eie toere wat ook in die rooi begin draai vir die arrogante mannetjie.

“Nou hoe doen julle dit hier?” vra die prokkie.

“Ons gebruik die drie-skop-metode hierlangs.”

“Hoe werk dit?” vra ons maat verward.

“Wel ek skop jou drie keer, dan skop jy my drie keer en dan skop ek weer en so skop ons mekaar totdat die eerste een opgee, dan kry die ander een die bok.”

Die prokureur oorweeg sy opsies. Hy is elk geval nie lus om oor die bladgekweste bok hof toe te gaan nie. Dan is die omie al mooi oud en hy wat prokureur is het mos darem karate op skool gehad.

“Dit klink vir my reg,”antwoord hy,”wie skop eerste.”

“Natuurlik ek, jy is mos op my grond.”

Hulle stem altwee daartoe in en dan trek die ou boer los en skop die prokkie tussen die bene. Die pyn en die gewig van die bok op sy skouers laat sak hom op sy knieë en dan skop die ou oom hom vol in die gesig. As hy grond toe gaan dan gee die oom hom die derde skop in die ribbes.

“Right,” sȇ die ou boer,” nou gee ek op, jy kan dus maar die bok kry.”

Die boer klim in sy Cruiser en dan sȇ hy vir sy handlanger,” dis hoe jy met ʼn prokureur se sake werk.”

No comments:

Post a Comment