Sunday, June 26, 2011

Oom Sebastiaan en die Springbok

Ek het eendag bietjie sprints op die atletiekbaan hier onderkant die huis gaan doen toe oom Sebastiaan daar aankom. Hy het met die hond om die baan kom stap. Nadat ek klaar afgekoel het kry ek hom daar voor die pawiljoen.

   “Ek sien jy hol nog lekker op jou oudag,” groet hy.

   “Lekker grappie,ja,” antwoord ek wat my sprints tot so twintig meter beperk.

   “Het ek jou al vertel van die keer wat ek teen die Springbokatleet mos hol?” vra hy.

   Ek gaan sit solank op die pawiljoen, want ek weet hy gaan in elk geval vertel.



   “Kyk, die ding het so gebeur,” begin hy sy storie.

   “Ek het net uit die army uitgeklaar en was nog lekker fiks van basies doen toe die atletiekmanne van Suidwes besluit om die byeenkoms van alle byeenkomste hier in Windhoek te hou. Hulle maak almal in die land bymekaar wat kan hol, gooi, spring en vir die main event nooi hulle ʼn Springbok langafstand atleet.”

   “Hy laat weet dis reg, hy kom, maar hy hardloop nie in die dag in ons hitte nie. Dit moet ʼn aandresies wees en niks verder as ʼn myl nie. Dan vra hy ook dat daar kompetisie vir hom moet wees, want hy hol nie alleen nie. Toe soek die klomp organiseerders ernstig na atlete wat die myl kan hardloop en daar het hulle toe ʼn groot probleem. Die springbok kon die myl lag-lag onder vier minute doen en hier by ons het die bestes rondom vyf minute gepraat.”

   “Na ʼn lang gesoek kry hulle niemand opgespoor wat hulle name vrywillig wil gat maak nie en as laaste uitweg nader hulle die army sammajoor op Okahandja. Hy laat weet dat die nuwe inname troepe nog te sleg is, maar hy gee vir hulle die name van die twintig troepe wat toe net uitgeklaar het en wat die 2,4 met kit die vinnigste gedoen het. Ek is toe een van daardie manne. Ons almal weier, maar toe ons al twintig met ʼn goewermentsbriefie gedreig word waarin ons onmiddelik vir ʼn drie maande kamp opgeroep word, toe begin ons sommer dadelik oefen.”

   “Daar was slegs twee weke oor voor die groot dag en daar is geen manier hoe mens op so kort kennisgewing in ʼn wereldklasatleet kan verander nie. Daarom moes ons ander planne beraam. Een van ons groep van twintig het direk nadat hy uitgeklaar het dadelik as appy electrician begin. Hy kom toe tydens een oefening met die beste plan vorendag waaraan ons kon dink.

   “Die beste beskikbare atletiekbaan in daardie tyd, onthou dit was hier in die sewentigs waarvan ek nou praat, was die skoolbaan van Windhoek Hoërskool. Daar was ʼn lekker groot pawiljoen basies net soos dit vandag nog daar staan. Die baan was ʼn asbaan, ook nog net soos vandag. Op die Noorde en Suidelike hoeke van die pawiljoen se dak het die organiseerders twee spreiligte laat installeer om die nagresies te akkomodeer.”

   “Vir die korter afstande was dit perfek en ook vir die veldnommers, maar volgens ons appy sou die ligte nie sterk genoeg wees om die agterste deel van die baan ook te dek nie en sy plan was daarop gegrond.”

   “Die aand van die groot resies breek aan en hoe donkerder dit raak en hoe nader die tyd aan die groot oomblik (die een myl item) kom, hoe duideliker word dit vir ons dat die plan dalk net kan werk.”

   “Omtrent ʼn uur voor die een myl as laaste en hoofitem begin, is ons Springbokatleet al op die baan en begin hy opwarm. Ons besluit om eers later te begin, dalk maak die man homself moeg nog voor die resies begin. So tien minute voor die tyd gaan warm ons daar langsaan in die parlement se tuine op. Ons wou eintlik nie hȇ die mense moes sien hoe ons ʼn paar trekke aan ʼn sigaret vat om die longe op te warm nie.”

   “Toe die hoofitem aanbreek toe meld daar net vyf van ons by die beginpunt aan en ons maak so bietjie litte los onder groot gejuig van die plaaslike toeskouers se kant af.

Die organiseerders vra nog vrae na waar die ander manne is, maar ons wis van niks en uiteindelik besluit hulle dat die item moet begin sonder die ander klomp. Die een myl is vier rondtes om die baan en ons begin dus daar waar die wenstreep is.”

   Toe die skoot klap vir die wegspring toe is die springbok sommer klaar reg vir aksie en die man vlieg daar weg asof ons net een rondte moet doen. Ons hol vir al wat ons werd is om by te bly. In die agterste donker deel van die baan beweeg die vyf van ons oor na die derde en vierde baan en in die middel van die reguit gedeelte gee ons heel uit die baan uit pad en gaan hurk aan die buitekant van die baan.”

   “Nagenoeg by die beginpunt van die twee honderd meter merk toe die springbok in die draai begin ingaan toe sluit daar uit die skadus van die donkerte vyf vars nuwe manne by hom aan. Dis nou vyf van die manne wat kamma nie opgedaag het nie, maar deel van ons plan was. Die vyf laat loop vir alles wat hulle werd is en in die deel voor die hoofpawiljoen toe is drie van hulle glads voor die springbok. Maar met die aanbreek van die agterste donker deel is hulle asem op en hulle trek sommer vroeg oor na die donkerste agterkant toe.”

   “Met die aanbreek van die volgende draai is daar weer vyf vars nuwe gesigte saam met springbok en weer is drie van hulle voor met die toeskouers wat mal gaan. Maar ook hulle is gou flou gehol en die donker deel kan skaars vinnig genoeg aanbreek en hulle kom val stokflou hier langs ons neer. Weer sluit daar vyf vars nuwe manne by die springbok aan. Die keer is dit die laaste vars manne en wanneer hulle by ons opdaag dan vat ons vyf wat begin het weer oor om die laaste 200 meter te doen. Sodoende sou niemand dan onraad vermoed as dieselfde beginners weer by die eindstreep aankom nie.”

   “Ook hierdie vyf is ewe kordaat voor die man van die dag in die deel voor die pawiljoen, maar ook hulle sukkel om die volle rondte by hom te bly. Hulle val sommer vroeg in die donker stuk uit en toe die springbok die draai vir die laaste 200 meter ingaan toe is ons by hom. Ek hou so bietjie terug en spaar myself vir die laaste 100 maar die ander vier laat loop oop en toe. Met die aanbreek van die laaste reguit stuk voor die hoofpawiljoen toe maak daai springbok alle nommers oop in die rooi in. Ek bly by hom en ons steek my vier maats verby asof hulle stilstaan. Met tien meter oor toe is dit koenabs toe met my en daai man wen my met ʼn goeie vyf meter.”

   “Oor die wenpaal val ek in die asbaan neer en kruiploop vir die waterkraan wat daar voor die hoofpawiljoen is met my vier maats wat baklei om eerste by die water uit te kom. Die springbok het net sy spoed so effens verminder en is besig om op ʼn stywe draffie sy ere-rondte te doen. Met die wat ons staan en water drink toe kom staan daar so ouerige omie uit die pawiljoen uit by ons en hy sȇ; manne, as ek julle net vir so maand voor die tyd kon coach, dan het daai springbok vanaand sy gat gesien. Dis toe dat ons weer vir die donkerte laat loop voordat die omie verdere planne kan maak.”

   

No comments:

Post a Comment