Friday, June 24, 2011

Kleinnig se kind

   Oom Sebastiaan nooi homself nou die ander dag vir koffie en ons gaan sit buite op die stoep, elkeen met ʼn beker koffie. Die twee kiddies speel buite in die tuin en verander so tussendeur pappa se tuinuitleg.

   “Hoe oud is die meisiekind nou?” vra hy.

   “Word nou vier,” antwoord ek.

   “Jong maar hulle word darem vinnig groot,” sȇ hy.

   “Te vinnig en dan vang hulle mos al die woorde op wat ek nie wil hȇ hulle moet hoor nie.”

   “Ian, nou praat jy ʼn ware ding, het ek jou al vertel wat die kleinnig van my met haar meisiekind oor gekom het?”

   “Nee, ek dink nie so nie.”

   “Die ding het so gebeur,” sȇ hy en dan begin hy te vertel.

   “Die kleinnig van my koop mos ʼn erf daar in Auasblick en bou vir hulle ʼn pragtige huis daar op ʼn bult. So drie maande nadat hulle ingetrek het, kom plak daar ʼn klomp basterbouers van Rehoboth af ʼn sinkhuis op die oop erf langs hulle en begin fondasies grou vir ʼn nuwe huis. Jy weet mos hoe vinnig vorder so bouery en die fondasies is skaars gegooi, toe begin te bou die manne.”

   “Kleinnig se meisiekind is mos nou net vyf geword en dis vakansietyd en sy hang heeldag daar oor die muur om die bouery te bekyk. Dis ook nie lank nie en die bouers nooi haar om saam te kom bou. Man, dan laat dra hulle haar stene aan en spuit bietjie hier nat en gooi bietjie water daar by die concrete mixer en so hou hulle haar besig. Teetyd dan sit sy daar by die mans om die vuurtjie en lunchbreak eet sy saam.”

   “Toe die eerste fortnight aanbreek en dis paytyd, toe het die klomp daar onder mekaar ʼn koevert bymekaar gemaak en vir haar ʼn vyftigrand gelas. Haar heel eerste paycheck en dit op vyfjarige ouderdom. Haar ma is so beindruk dat sy ook sommer dadelik besluit kleinding moet saam bank toe en haar eie rekening oop maak.”

   “By die bank is die klerk daar ewe beindruk met die kind van vyf wat al haar eerste pay wil kom bank en die begin daar met haar te gesels.”

   “Vyftig rand vir twee weke se werk is baie,” sȇ die bankklerk, “en dan is die vakansie ook nog nie verby nie. Gaan jy hierdie week verder werk?” vra die klerk.

   “Ek gaan ja,” antwoord die kind, “as die fo#%7n don!#4e klomp slap$%(8& ma se #@4%^$ net die fo@#!4n don#@4#@ stene gaan kom aflewer, ja.”

   “En dit kry jy nou van kinders wat woorde vinnig opvang,” sȇ oom Sebastiaan.

No comments:

Post a Comment