Tuesday, June 28, 2011

Babysit

As verkoopsverteenwoordiger is mamsie redelik gereeld op die pad, uitstedig vir so rondom 4 dae op ʼn slag. Gister was dag nommer een van haar Noorde trip. Pappa (dis nou ek) is dan in die rol van Pappa, Mamma en babysitter van Sussie (4) en boetie (2).

Die dag verloop toe so; Staan 6h00 op en maak skoolbroodjies, stort, trek aan, maak koffie, sit Garfield 2 in die dvd speeler. Terwyl die kinders met Garfield wakker word pak ek die skooltassies en dan trek ek hulle klere aan. Sussie moet tande borsel terwyl ek die kar solank laat warm luier.7h15 laat loop ons skooltjie toe en 8h00 is ek by die werk. 17hoo begin ek weer kiddies optel en dis waar gister se storie begin. Half ses is ons by die huis. Boetie is vrek honger en ek gee hom ʼn oorskiet broodjie uit sussie se tas uit. Ek sit solank vir Garfield aan en begin aandete maak. Kiddies se tassies word uitgepak Ek was solank die kosbakkies skoon vir more. Boetie bring sy rugbybal en wil skop. Ek moet vang en terugskop. Dit gebeur in die kombuis terwyl ek kos maak. Sussie huil en wil saamskop. Ek gee vir elkeen ʼn bakkie vla en hulle vergeet van die bal. Ek maak ʼn mental note om vir boetie ʼn tennisbal te koop. Miskien vergeet hy van rugby. Al skop hy die bal met albei voete, wat die springbok losskakel nie eens doen nie, sal ek nie spyt wees as hy liewers tennis speel nie. Ek gaan kry solank hulle nagklere vir na badtyd gereed. Sussie het haar fluitjie ontdek en boetie loop en fluit in die huis rond. Ek maak ʼn mental note om vir hom ʼn golfstok te koop, nou net kry hy gedagtes om ʼn skeidsregter te word. Ek was solank die honde se kosbak en maak dit vol pille. Boetie het die fluitjie verloor en hardloop met hulle plastiekstoele in die sitkamer rond en gooi die Jack Russels (uitgebasterde kortbeen foksies) daarmee. Sussie huil vir haar bottel en ek maak sommer albei s’n vol koeldrank. Ek maak solank die ketel kook om hulle tee vir die aand te maak. Sussie was op die toilet en ek gaan rol die hele rol papier tydsaam terug op die rol op. Dis nou die deel wat nie nog steeds aan die rol vas binne in die toilet is nie. Boetie het sy pakkie Nicknacks op die kombuisvloer uitgegooi en ry dit nou met sy swart plastiekfietsie plat en fyn. Ek maak ʼn mental note om vir hom ʼn sokkerbal te koop. Miskien word hy liewers ʼn sokkerspeler as ʼn vandalistiese sokkerondersteuner.  Ek kry die besem en vee uit.Sussie se Nicknaks is op die kamermat en ek kry die stofsuier en suig skoon. Ek gaan verder met aandete. Ek haal solank wildsteaks uit vir moreaand. Ek kry ʼn huisvol mense wat van Swakop af deurkom vir Woensdag se begrafnis. Mamma stuur ʼn sms en ek bel haar gou terug. Sy is moeg van 900km se ry vir die dag en gaan solank slaap. Ek kry weer die stofsuier en probeer gerasperde kaas uit die kamermat uitsuig. Sussie was in die yskas terwyl ek op die telefoon besig was. Ek gooi my 1ste koppie koffie van die aand. Ek en die kiddies eet. Hulle gaan kyk vir Garfield wat nou vir die derde keer vandag van voor af begin. Ek ruim op en begin skooltasse pak vir more. Ek ruik ʼn erge klankie en kyk of die honde nie in die huis was nie. Dis op die ou end boetie se doek. Ek haal die vuil doek af en maak skoon. Gooi baba poeier en sit nuwe doek aan. Ek gooi die vuil doek in ʼn carry bag en neem dit na die buitenste drom toe. Terug in die huis het sussie die bottel babapoeier beet gehad en die helfde van die bottel is gebruik om die mat mee wit te kleur, die ander helfde is op haarself en boetie gebruik. Dis weer stofsuier tyd. Albei se tietiebottels is soek. Ek soek die bottels, maak vol tee en sit die kiddies in die bed. Dis nou nege-uur. Ek gaan lȇ tussen hulle en wag tot altwee rustig raak en uiteindelik aan die slaap raak. Dan staan ek op en gaan stort. Ek trek my warmste nagklere aan , gooi my tweede beker koffie vir die aand en sit vir Garfield af. Dan lees ek vinnig ʼn hoofstukkie uit ʼn Andre P Brink boek, sit die ligte af en sluit die deure. Ek bel vir Mams en vertel haar dinge van lekker slaap en mooi ry more. Weer ʼn skoffie van 800km met tussenin werk op drie dorpe. Dan gaan kry ek my lȇ weer tussen die twee kiddies en skuif hulle nader aan my teen die koue. Ek lȇ en wonder vir ʼn oomblik wat die mooiste Afrikaanse woord vir Babysit is en besluit dat dit seker “Kinderspeletjies” moet wees.

No comments:

Post a Comment