Friday, June 10, 2011

Vir my vriende

Die jaar is 1982
Die plek is die atletiekbaan van Windhoek Hoërskool.
Dit is huiskompetisie, Swarthaak, Kanniedood en Wag ʼn Bietjie is in ʼn verbete stryd gewikkel om die atletiekbeker vir die span van die dag te wen.
Kort voor die finale items van die dag, die 4 x 100meter aflosse, begin, word die spanpunte op die groenbord voor die hoofpawiljoen aangebring.
Wag ʼn Bietjie loop met ʼn enkele paar punte voor Kanniedood. Swarthaak se kanse is feitlik verby, al wen hulle al die aflosse sal hulle waarskynlik nie die byeenkoms kan wen nie.
In die junior aflosse is dit weereens Kanniedood en Wag ʼn Bietjie wat die eerste en tweede plekke deel en nou is dit tyd vir die laaste item van die dag, die aflos vir die seuns onder 19 ouderdomsgroep. Alles hang nou van hierdie item af, wen my span, dan wen Kanniedood die beker. Wen Wag ʼn Bietjie dan vat hulle die beker.
Van waar ek op die baan staan bereken ek my span se kanse. Ons het 3 onbekende atlete wat die eerste drie bene hardloop, met myself wat die laaste finale been moet doen. Wag ʼn Bietjie is in die binnebaan en hulle finale been word deur Ben Human gehardloop. Hy het vroeër deur die dag al die kortafstand items gewen.
Ek het weer op my beurt al die langafstand items, die 3000m, die 1500m en die 800m gewen. Dit is toevallig ook die langste gesamentlike afstand wat enige atleet deu die dag kan aflȇ om maksimum punte vir sy span in te bring. Ek het dus my kant gebring, maar die grootste uitdaging van die dag is nou hier. Die tyd het aangebreek.
Aan my buitekant is die man van Swarthaak en in die heel buitekant is die span van die onderwysers. Oor Swarthaak en die onnies is ek nie bekommerd nie, hulle kan nie die dag wen nie. Dit is wie tussen my en Ben Human eerste oor die wenpaal hardloop wat regtig saak maak. Sy span wen die dag. Ben is die sprinter, ek is die man vir die langafstande.
Die skoot klap vir die wegspring en die manne vlieg uit die blokke uit. Erkies, die LO onnie, is die een wat vir die onnies wegspring en ek vergaap my aan die spoed van die ou man. Ek het gedink al die onnies is oud. Hy gee die aflosstokkie oor aan Danie Knoetze en die kort senter van United vlieg behoorlik oor die agterste lang been voor hy aan Dawie Harmse oorgee. Ek vergaap my so aan die span van die onnies dat ek heeltemal vergeet van die belangrikste deel van die dag, ons wat moet wen.
Ek word skielik uit my droomwereld geruk toe die atlete om die finale draai op ons afpeil. Skielik is ek weer terug by my volle positiewe en ek konsentreer op dit wat ons vroeër geleer is. Trek weg voor die ander atleet by jou is. Hou jou linkerhand na agter sodat jou spanmaat die stokkie in jou hand kan sit. Teen die tyd wat jy seker is die stokkie is veilig in jou hand moet jy al feitlik op volspoed wees.
Alles verloop seepglad by die oorgee en ek is in die finale 80 meter op pad wenpaal toe. In die hitte van die oomblik besef ek dat die groep kinders op die pawiljoen naaste aan die oorgeepunt almal op hulle voete is. Dit is die Kanniedoders, ons het dus die stokkie eerste ontvang. Direk daarna kom die Wag ʼn Bietjie kinders op hulle voete en ek besef dat Ben sy stokkie ontvang het. Vandag sal ek moet hol vir alles wat ek werd is.
Bokant die oorweldigende gedruis vanaf die pawiljoen is dit doodstil in my kop. Ek hoor net die egalige plofgeluid wat my kaal voete op die asbaan maak. Of is dit dalk my verbeelding, is dit nie dalk Ben se spykerskoene wat ek hoor nie? Dan so skielik as wat dit begin het, so skielik is dit verby. Die lint by die wenpaal is by my en die geel Kanniedood frokkie oor my bors breek die lint. Ons het dit gedoen, ons het die dag gewen.
Ek draai 10 meter anderkant die wenpaal om opsoek na my spanmaats. Die trots in my wil uitkom en ek wil dit met my spanmaats deel, maar hulle is nog op die punte waar hulle die stokkie aanmekaar oorgegee het.

Die jaar is 2012
Dit is 02h30 in die oggend.
Die 30 jarige reunie het ou grepe uit die verlede by my laat opkom. Die droom was so werklik. Dis asof dit gister was. Ek lȇ in die bed in die middel van ʼn besonderse koue winternag. Ek dink terug aan daardie wedloop. Die een wat die dag vir ons gewen het. Ek dink aan die drie spanmaats wat ons in so ʼn posisie ingehardloop het dat ek die stokkie vroeg genoeg ontvang het dat Ben my nie kon inhaal nie.
Dan tref dit my met ʼn skok. Ek, Ian Snyman, kan hulle nie onthou nie. Ek kan nie onthou wie my eie spanmaats was nie. Ek kan nie hulle gesigte voor my oproep nie. Was ek dalk te selfgekonsentreerd dat ek nie my maats kan onthou nie? Dan dink ek by myself, wat as ek die klok 30 jaar kan terugdraai. Sal ek dan my maats kan onthou?
Kom ek vertel julle wat sou gebeur as ek die wiel van die lewe 30 jaar terug kon draai.
Ek sou hierdie selfde storie skryf, maar my naam sou nȇrens genoem word nie. Ek sal die onbekende ou word wat die laaste been hardloop. Die storie sal konsentreer op die drie helde van die dag. Die drie atlete wie se ouers op die pawiljoen sit, hulle kinders uit volle bors aanmoedig en saggies by hulle self wens; Hoekom kon my kind nie soveel talent soos daardie ander kind gehad het nie? Hoekom kon my kind nie so vinnig soos daardie een wees nie, hoekom kon hy nie spring soos daardie een nie, hoekom kon hy nie gooi soos daardie een nie? Maar nog steeds was hulle daar, nog steeds het hulle ondersteun asof hulle kinders die heel beste was.
Maar hy besef nie dat sy kind een van die vier belangrikste komponente in die wenspan van die dag was nie. Hy besef nie dat sy kind die held van die dag was nie, die stil held wat nie erkenning vir sy belangrike prestasie ontvang nie.
Dan dink ek weer, wat as ek die klok kan terugdraai? Ek weet wat daardie antwoord is. Ek sal vandag, 30 jaar later, nog steeds jou beste vriend wees. Ek sal jou naam ken, jou bynaam, jou eggenoot se naam, jou kinders se name. Ek sal daar wees vir jou wanneer jy ʼn vriend nodig het. Ek sal jou prestasies in die lewe ken, al weet ek dat jy nie erkenning daarvoor sou vra nie.
Jy sal die stil een in ʼn suksesvolle maatskappy wees. Die een waarsonder die besigheid nie kan oorleef nie. Jy sal die boer wees, sonder wie sy diere nie sal oorleef nie. Jy sal die gelukkige pa of ma wees wat sy kinders in alle hulle lewensaktiwiteite bystaan, of hulle bo die res uitstaan, en of hulle maar net gemiddeld is. Dit sal jou nie pla nie, jy sal jou kind steeds onfeilbaar lief hȇ. Jy sal daar wees vir jou vriende, in hulle lief en leed. Belangrikste van alles, jy sal hulle name ken, jy sal hulle onthou, al het jy hulle 30 jaar laas gesien.
Ek sal al die matrieks van 1982 se name ken. Vanaf A tot by Z sal ek elkeen se beste vriend wees. Ek sou al my aandag daaraan spandeer om elkeen beter te leer ken. Die “Rocket Scientist”, die prokurueur, die dokter, die tandarts se stoelassistent, die sekretaresse, die staatsamptenaar, die brandweerman, die valetjie, die blink een, die sportman, die ondersteuners, die komediante, die ernstiges, die alkoliste, die predikers, die depressielyers, ek sou almal deur die jare bygestaan het. Ek sou jou ondersteun in alles wat jy aanpak, ek sou vir jou bid,
Jy sou my telefoonnommer uit jou kop uit ken, want ek sou net ʼn oproep ver wees. Jy sou my e-pos adres uit jou kop uit ken, want ek sou net ʼn briefie ver wees. Ek sou jou adresse ken, jou nommers. Ek, die onbekende valetjie wat die laaste been van ons laaste huiskompetisie gehardloop het, sou jou beste vriend word, vir jare wat sou kom en nog sal kom. Ek sou jou ouers laat weet watter held hulle kind werklik is.
Ek sou geweier het om die laaste been te hardloop, al sou die skool my dreig met ʼn skorsing, want ek sou te besig op die pawiljoen wees. Besig om jou te ondersteun en aan te moedig, waar jy die laaste belangrike been vir ons span hardloop.
Ek sou jou nou vergeet nie.

No comments:

Post a Comment