Thursday, May 5, 2011

Smit en Matfield

Smit en Matfield

Net die ander dag het ek hier bietjie gal gebraak oor Rassie wat die leke moet gaan reghelp en tot hoe ʼn mate de Villiers hom gaan toelaat, of die 2 de Mei is klaar hier en Rassie se rol as konsultant in die bokgroep word bevestig. Maar wat ek oor bespiegel het, was juis Rassie se magte wat sy rol in spankeuses sal behels. En daar maak ou snorre toe sommer tesame met Rassie se aanstelling ook bekend dat John Smit en Matfield onderskeidelik kaptein en onderkaptein van die wereldbekerspan sal wees.
Nou kyk, asof dit nie reeds genoeg is dat die bokke hulle titel moet gaan verdedig met ʼn afrigter wat iemand anders moet aanstel om hom te leer afrig nie, dan nog die drawback daarby ook. Ek wil nie myself as ʼn rugbykenner uitgee nie, daarom werk ek nou liewers op inligting wat ek by kenners kry. Op die kyknet program, superrugby, kies die kenners, Kobus Wiese, Breyten Paulse, Naas Botha en kamma kenner Ahswin Willemse weekliks die bokspan wat vir hulle die spelers in vorm is. Slegs Naas, (soos verwag kan word agv sy Blou Bul sentemie) kies vir Matfield in hulle onderskeie spanne. Nie een van die kenners kies vir John Smit nie. Pleinweg gestel is dus nie een van die twee spelers goed genoeg op vorm om deur ʼn paneel van keurders die span te haal nie. Dan volg ou snorre se kommentaar, nadat niemand eens sy mening daaroor gevra het nie; Hy beweer dat hy volle vertroue in die twee spelers se graad van proffessionaliteit het dat wanneer die wereldbeker aanbreek hulle weer in topvorm sal wees. Haai shame, hoekom kies hy my nie ook nie, ek sal ook sorg dat ek vir die geleentheid in topvorm is. Ek is maar slegs 47 en het baie min myle op die klok. Die realiteit is dat spanne soos Australia en New Zeeland met die beste invorm spelers by hierdie toernooi gaan opdaag. Ek wil graag hierdie voorbeeld gebruik; As Ma’ unu nie sy dinges in rat kry nie dan sal Sonny Bill Williams die binnesenter vir die All Blacks wees. Hierdie afrigter gaan nie voorkeur aan ondervinding gee nie, hy gee voorkeur aan die senter wat ʼn drie kan maak of self druk. Die man wat kan en nie die man wat wil nie. Ek was altyd onder die indruk mens kies jou beste span en dan kies jy daaruit die geskikte leier en nie andersom nie. Die kaptein moet eerstens die span maak oordat hy die beste in sy posisie is, en nie hy of Matfield word al vir die afgelope twee jaar deur kenners as die beste beoordeel nie. Jammer oubokke, maar ek sal maar vir die ander twee Suiderhalfrondspanne moet skreeu, ek wil darem ten minste vir ʼn span skreeu wat tot die finaal kan deurdring.

No comments:

Post a Comment