Friday, May 27, 2011

100 meter rekord

“Dit was daar iewers net voor die Olimpiese spele van 2008 in Beijing in China wat ek gou vir bietjie besigheid oor soontoe is”, vertel oom Sebastiaan my die ander dag.
“Ek was aanvanklik nie van plan om die spele by te woon nie, maar omdat ek mos uit ʼn atletiek agtergrond uitkom, moes ek eintlik kon raai dat ek op die ou end wel daar sou opdaag”, vertel hy.
“Kyk, die ding het so begin. Ek gaan draf een namiddag daar verby die olimpiese stadium om darem die plekkie van naderby te kan sien. Net aan die buitekant van die stadium is daar ʼn kleiner baan wat die atlete gebruik om op te warm voordat hulle in die stadium inbeweeg vir die eintlike wedloop. Omdat ek mos maar nog al die jare ʼn talentsoeker is en bietjie die atlete van naderby wou sien, gaan ek toe in en beplan om so paar sprints te doen. Op my ouderdom is ek mos nie meer so vinnig as wat ek in my jonger dae was nie, maar ek is darem nou ook nog nie heeltemal oor die muur nie”.
“Ek merk toe daar in die blokke is so ʼn lang knaap wat gereed maak vir ʼn sprint of twee en ek staan sommer nader en vra of ek kan saam hol. Die knaap verstaan toe mos nou geen Afrikaans nie, maar hy het seker afgelei wat ek vra en beduie daar na die baan langs hom en ek gaan sak sommer daar in die blokke in die “get set” posisie. Sy afrigter blaas op ʼn fluitjie en die lang man kom besonders haastig uit die blokke uit, maar watwou, ek sit op sy gat en rondom die halfpadmerk, toe cruise ek so gemaklik by hom verby. By die eindstreep lyk dit vir my so al asof die mannetjie bietjie verbaas is, maar ek gee hom nie kans om asem te skep nie en begin hom sommer dadelik te coach terwyl ons terugstap na die beginpunt toe”.
“Kyk boet, met jou lengte en jou maergat behoort jy ʼn lekker 800 of 1500 te kan hol, maar dan sal ek nog so bietjie aan jou moet werk. Jou spoed is nie te sleg nie, dis nou gemeet aan my standaarde, maar met harde werk maak ek van jou ʼn wenner. Ek is net bietjie bekommerd oor jou arms wat bietjie aan die fris kant vir ʼn middelafstandatleet is, maar moenie worry nie, ek sal jou reg kry. So coach ek en die knaap kyk my aan asof ek kens is, want sien , hy verstaan geen woord Afrikaans nie. Met die tweede sprint is ek mos nou bietjie losser as met die vorige een en ek glip hom al hier op 40 meter verby. Maar nou raak ek kwaad, want die man het duidelik talent, maar hy lyk vir my bietjie lui. Ek hol bietjie stadiger en dan wanneer hy langs my is praat ek hom hard aan. Kom boet, as jy met die bestes wil deel dan sal jy harder moet werk, skrou ek so in die hol vir hom”.
“Met die 3de sprint is die lang knaap se blus heel uit toe ek hom sommer hier van die start af los, maar nou is ek sommer vies vir talent wat so gemors word en ek hol hom sommer met ʼn goeie tien meter weg en oor die wenpaal bly draf ek sommer reguit aan hotel toe. Ek kan nie iemand coach wat nie veggees toon nie en ek sou dus nie my tyd verder met die knaap mors nie.”
“So kom dit toe dat die geel mensies met wie ek gaan sake doen het, my mos ʼn komplimentere kaartjie vir die 100meter finaal by die spele gee. Nogal reg oor die wenpaal. Kort afstande was nog nooit my gunsteling item nie oor dit mos vir onfiks atlete is. As hulle fiks was, dan sou hulle mos verder kon hol. Maar ek wou nie die Chinesies in die gesig vat nie en ek gaan toe saam net om die vrede te bewaar. Toe die 100 finaal aanbreek is dit al asof daar ʼn ekstra atmosfeer in die skare losbreek. Die Chinesies vertel my toe dat daar ʼn atleet van die Jamaica eilande is wat blykbaar ʼn goeie kans staan om die wereldrekord te verbeter. Nou daarvoor is ek te vinde en ek vis toe dadelik meer oor die atleet uit. Ene Usain Bolt, vertel hulle my. En wragtig toe daai skoot klap toe is die man in sy geel Jamaica hempie ook sommer heel voor en hy verbeter die wereld rekord hier reg voor my”.
“Die ou doen toe ʼn ere rondte en toe hy weer so windgat hier vlak voor ons verbydraf toe sal ek hom mos erken. Dis toe al die tyd die lang knaap wat ek so weggehol het en probeer coach het”.

No comments:

Post a Comment