Friday, May 6, 2011

Johan Sadie

Ek het mos nou reeds paar maal laat val dat ek nie n rugbykenner, of n politieke kenner of n ekspert op die gebied van joernalistiek is nie, ek vra maar net vrae wanneer iets nie vir my sin maak in koerantberigte of radioberigte nie. Nou is daar vanmore weer so klomp spasie afgestaan aan die Stormers se verassende besluit om vir Johan Sadie op vleuel in te span bo die kamma logiese keuse van Danie Poolman. Nou eers my vrae wat sommer dadelik by my opkom nog voordat ek die berig gelees het. Wie is die skrywer van die berig en hoekom is dit vir hom n verrassende besluitneming? Ek neem aan dat die media sekerlik genoeg skrywers het dat ons hierdie een dan as n sportkenner kan aanvaar. Maar het hy sy kennis deur skryf of deur sport opgedoen? Hier is my siening as leek oor die insluiting van Sadie; Percy Montgomerie is as jong WP senter na die bokke toe ingetrek as senter en het uiteindelik die rekord gehou as die heelagter met die meeste toetse agter sy naam, glad niks te doene met die 3 of 4 toetse wat hy op senter gespeel het nie. Jean de Villiers (wereld se nommer een binnesenter) en sy springbok sentermaat, Jacques Fourie, het albei hulle loopbane as vleuels begin. Fourie nog bonop as heelagter en vleuel ook. Brian Habana het vanaf die Leeus as senter na die Bulle oorgeloop en daar as vleuel aangegaan om die beste vleuel in die land te word. Danie Poolman is n vleuel en klaar. Johan Sadie is n senter. Vleuels is gewoond daaraan om met die bal te hol vir die hoekvlag en so word hulle al op skool geleer. Knyp die bal in een hand vas, maak jou ogies altwee toe en hol vir die hoekvlag, come hell or high water. Senters daarinteen word geleer om balle te versprei, gapings te lees en te vat en om sy maat in die beter posisie in te hardloop en weg te stuur. Dit maak dus net sin om senteronderving op vleuel te gebruik in groter spanne. Jou vleuel kan dus te eniger tyd by sy agterlyn aansluit as n ekstra senter en sodoende die opponent se verdediging aan die raai hou. Dan kan hy ook op enige posisie aansluit, maw tussen 10 en 12 of tussen 12 en 13 of laastens tussen 13 en die ander vleuel en hy weet wat om met die bal te maak wanneer hy daar aansluit. Het die All Black legende, Christian Cullen, ons nie al donkiejare terug gewys dat heelagters nie net buitekant die buitesenters moet insny nie? Hy het sommer langs die losgemaal of langs sy losskakel ingesny. Die logika daaragter is juis dat die verdediging nie vooraf n teenvoeter daarvoor kan uitwerk nie. Dis oor ons kiddies op skool afgerig word instede van om geleer te word. Daarmee bedoel ek dat afrigters slaafs navolg dit wat aan hulle geleer is instede van om sy eie planne uit te werk en self die leier op die gebied van planne skep te word. As voorbeeld wil ek gou die wereldkampioen, Usain Bolt, gebruik. As Bolt in Namibia skool gegaan het, dan was hy eerstens vandag n rugbyspeler en nie die wereldrekordhouer in die 100m en 200m nie. Tweedens sou hy as gevolg van sy lengte reeds op laerskool slot gespeel het. Daar sou nie n onnie gewees het wat buitekant die raamwerk gedink het en die kind aanbeveel het om eerder op atletiek te konsentreer nie. Dis net nie boerseun denke daardie nie. Maar my punt in elk geval is die; Waar presies is die verassingseffek in die insluiting van Johan Sadie nou weer? Dit klink vir my dan meer na die logiese keuse.

No comments:

Post a Comment