Wednesday, September 7, 2011

Voortrekkertjie

Nog een van Dirk se bydraes;

Liewe pa en ma,

Ons leierverkenner het gevra dat ons hier van die voortrekkerkamp vir
julle skryf, net ingeval julle die vloed op tv gesien het en bekommerd
is oor ons.

Ons is OK. Net een van ons tente en twee slaapsakke het weggespoel.
Gelukkig het niemand verdrink nie, want ons was almal op die berg besig
om vir Jan te soek toe dit gebeur het. Sê asseblief vir Jan se ma hy is
OK. Hy kan nie skryf nie omdat sy arm in gips is. Ek het in een van
daai redding helikopters gery. Dit was lekker! Ons sou hom nooit in die
donker gekry het as dit nie vir die weerlig was nie. Verkenner Skroewie
het kwaad geword vir Piet omdat hy gaan rondloop het sonder om vir
iemand te sê. Piet sê hy het hom gesê, maar dit was seker tydens die
vuur, so hy het hom seker nie gehoor nie. Het julle geweet dat as jy
een van daai spuitblikke op die vuur gooi, dan ontplof hy? Die nat hout
wou nie brand nie, maar een van die tente en party van ons klere het.
Dawie gaan snaaks lyk tot sy hare weer uitgegroei het.

Ons kom Saterdag terug as verkenner Skroewie die kar kan regmaak. Die
ongeluk was nie sy skuld nie. Die brieke was OK toe ons hier weg is. Hy
sê 'n mens moet verwag dat so 'n ou kar gereeld sal breek, dis seker
hoekom hy nie versekering kan kry nie. Ons hou van die kar. Hy gee nie
om as dit vuil is binne nie en partykeer laat hy ons bo op die dak of
voorop ry. Dit word warm binne in met 10 mense. Hy het ons in die
sleepwa laat ry totdat die polise ons gestop het en met hom gepraat
het. Maar hy is 'n goeie ou en 'n goeie drywer.. Hy en Klasie is op die
oomblik weg. Hy leer hom op die bergpaaie bestuur, waar daar nie karre
is nie, net groot vragmotors wat boomstompe wegry.

Vanoggend het almal gaan swem, maar Verkenner Skroewie wou my en
Jan nie laat swem nie, want ek kan nie swem nie en Jan se arm is in gips,
toe gee hy vir ons die roeibootjie op die rivier. Dit was lekker! Party
plekke is die water so diep na die vloed, daar is bome onder die water!
En verkenner Skroewie is nie kwaai oor lewensbaadjies soos daai ander
een verlede jaar nie. Hy werk nou baie aan die kar, so ons probeer hom
nie veel pla nie.

Raai wat? Ons het almal nou klaar ons noodhulp kentekens gekry! Toe
Adriaan in die water geduik het, het hy sy arm oopgesny en Verkenner
Skroewie het gesê ons moet op hom oefen om die wond toe te werk. Ek
en Herman het opgebring, maar verkenner Skroewie sê dis seker net vrot
hoender wat ons gister geëet het of iets. Hy sê hy het ook baie keer
siek geword van vrot kos toe hy in die tronk was. Ek is bly hy is nou
uit, want hy sê hy het baie geleer terwyl hy in die tronk was. Wat is
'n pedofiel?

Ek moet nou gaan. Ons moet nou dorp toe gaan om ons briewe te pos en
vaseline te koop. Moenie oor ons worry nie. Ons is OK.

Baai,

Gertjie

No comments:

Post a Comment