Thursday, September 1, 2011

Die oujongnooi (September storie)




Die oujongnooi



Deur

Ian Snyman



   Tant Marie, so is daar aan my vertel, is ʼn oujongnooi met ʼn baie hartseer verlede. Sy was glo beeldskoon in haar jonger dae en ʼn verpleegster van beroep. Belangstelling van die mans se kant af was daar glo nie ʼn tekort aan nie, dog sy het nooit getrou nie. Ek besluit toe eendag om die tante te besoek daar waar sy eensaam en alleen in haar huis aan die onderkant van die dorp bly.

  

   “Goeie môre tannie,” groet ek op die plat boeremanier toe sy die deur oopmaak.

   “Goeie môre boet,” groet sy terug en kyk my baie agterdogtig aan.

   “Kan ek maar inkom, ek wil bietjie met tannie gesels.”

   “Waaroor?”

   “Laat ek maar eerlik wees tannie, ek is ʼn aspirant skrywer en ek wil hoor of ek tannie se storie mag skryf.”

   “Jy bedoel die storie waaroor die hele dorp al vir soveel jare lank skinder?”

   “Dis reg, die rede hoekom tannie nooit getrou het nie.”

   “Drink jy tee boetie?”

   “Ja sekerlik.”

   “Nou goed kom binne, dis baie jare gelede sedert ek die geleentheid gehad het om vir iemand tee te maak.”

   Ons stap die sitkamer binne wat pragtig gerangskik is met die mooiste meubels van voor my geboorte af. Geen televisie en geen fotos teen die muur nie, net ʼn skildery van ʼn pragtige klein huisie iewers aan die voet van ʼn berg.

   “Sit, ek gaan haal gou iets.”

   “Dankie tannie.”

   Sy is iewers die huis in waar ek haar hoor soek na iets en dan keer sy na ʼn minuut of twee terug met ʼn ou foto album wat sy vir my aangee. Ek blaai daardeur en dan begin ek met die onvermydelike vrae.

   “Wie is die mooi vrou?”

   “Dit was ek toe ek so net oor die twintig was.”

   “Tannie was regtig baie mooi.”

   “Dankie.”

   “Ek neem aan hierdie was tannie se ouers.”

   “Ja en hulle is albei lankal oorlede. Ek was die enigste kind.”

   “Hierdie man, wie is hy?”

   “Dit was Hennie, die eerste liefde in my lewe.”

   “Wat het van hom geword?”

   “Dit was ʼn tragiese verhaal. Ons was vir meer as ʼn jaar lank gekys. Hennie was drie en twintig en ek twee en twintig. Ek het reeds in hierdie huis gebly wat ek twee jaar vroeёr na my ouers se afsterwe geerf het. Ek het gedink hy gaan my vra om te trou. Hy het in die bank gewerk en ek by die poskantoor. Ons het albei goeie salarisse verdien vir daardie tyd en die huis was afbetaal. Ons sou ʼn goeie bestaan maak, die huis is groot en hier is baie plek vir kinders.”

   “Ek wil net my feite agtermekaar kry, waarvan is tannie se ouers oorlede? Dit klink my hulle was nog redelik jonk.”

   “Ja hulle was nog jonk. Die dokters was nie seker nie maar hulle was oortuig dat hulle iets giftigs ingekry het. Hulle kon nooit bepaal presies wat nie. My pa was baie lief vir tuinmaak en dan het hy allerlei dinge ingelê en konfyt gekook en likeurs gemaak en later ook sy eie tee. Dit kon een van sy eie brousels gewees het wat so giftig was. Ek was so lief om hom met al sy eksperimente te help.”

   “Goed en Hennie, wat het toe met hom gebeur? Het hy toe die jawoord gevra?”

   “Nee, ons was ongeveer ʼn jaar saam en ek het die groot vraag enige tyd verwag. Ek het in my stilligheid al die troue beplan en die huis vir hom gereed gekry. Toe bel hy my een oggend en sê dat hy ernstig met my wil praat. Ek was in ekstase en het daardie aand myself opgetof soos nog nooit van tevore nie. Ek het vir hom die lekkerste maaltyd voorberei en kerse aangesteek. Ek het ʼn duur bottel wyn gaan koop en alles was net perfek vir die geleentheid.”

   “En toe tannie?”

   “Hy kom toe die aand oor en ek kon aan sy gesigsuitdrukking sien dat hy iets ernstigs op die hart het. Uiteindelik begin hy toe praat . Hy vertel toe dat hy nog baie jonk is en dat hy bang is dat ons verhouding te ernstig raak en dat hy nog so baie dinge wil doen en dat hy eintlik wil uitmaak. Ek was verpletter, my hart was gebreek.”

   “Wat gebeur toe?”

   “Dit was eintlik net so tragies. Hennie is kort daarna oorlede. Die dokters het gereken hy het ook iets giftigs ingekry. Die een doktertjie het selfs gereken dat dit die blare van Selonsrose kon wees. Glo baie giftig, die Selonsrose se blare wanneer dit uitgedroog is.”

   “Maar dis tragies tannie. Het tannie toe nooit weer verlief geraak nie?”

   “Ja, ek het. Kyk daar op die volgende blad. Jy kan nie so mooi op die wit en swart fotos sien nie maar daardie aantreklike ou daar saam met my was eintlik ʼn voskop. Man hy het net eendag van nêrens gekom en my voete skoon onder my uitgeslaan. My gebroke hart is oornag herstel toe hy my die eerste aand uitneem. Hy het net geweet hoe om ʼn vrou te hanteer. Ek was soos klei in sy hande, hy het met my gemaak net wat hy wou en ek het alles toegelaat. Die dorp se vroue was erg jaloers en het omtrent geskinder. Ons was nie ʼn maand saam nie toe begin ek al weer aan trou dink. Hennie was skoon vergete en Fanie was nou alles. Vinnige Fanie het hulle genoem, en was hy nie vir jou vinnig nie.”

   “Wou hy toe met tannie trou?”

   “Man dit het eintlik net so tragies geword. Een van my medewerkers kom fluister mos eendag in my oor dat vinnige Fanie sy bynaam gekry het oordat hy so vinnig ʼn vrou in die bed kon kry. Kyk dit was ongehoord om in daardie dae ongetroud saam in die bed te wees. Dit is eintlik vandag nog ongehoord maar dis darem vandag meer aanvaarbaar omdat amper almal dit doen. Ek het aanvanklik gedink dat dit maar net jaloesie van haar kant af was, maar die saadjie was geplant. Toe gaan my oё oop en ek besef mos dat ek nie die enigste vrou in sy lewe is nie. Daar was Lettie van die bank, Sarie by die kafee, Susan die tert en Marie van die sentrale. Die arme Fanie, hy het sy lewe regtig geniet maar so vinnig as wat hy saam met ʼn vrou was so vinnig het hy gesterf. Ook glo iets giftigs gehad. Dieselfde jong doktertjie het toe weer sy diagnosis op die blare van Selonsrose bevind. Hulle het egter nie die nodige kennis gehad om die oorsaak presies te bepaal nie.”

   “Tannie maar dit is waaragtig tragies. Toe besluit tannie maar om oujongnooi te word?”

   “Ek het dit oorweeg om nooit weer na mans te kyk nie, maar ek was ʼn mooi vrou en die mans het altyd na my gevry. Daar daag toe eendag ʼn man op, ek was nog besig met my werk en toe ek weer sien toe staan hy daar. Die mees aantreklikste man, lank, fris en donker gelaatstrekke. Ek was in vervoering maar het niks gewys nie. Hy het egter nie gras onder sy voete laat groei nie en het my sommer dadelik uitgevra. Ek het geweier, Fanie en Hennie was nog te vars in my gedagtes.”

   “Is dit hy op hierdie foto?”

   “Ja dit is hy. Piet was sy naam. Soos jy kan sien het ons toe by mekaar uitgekom. Hy het nooit ophou probeer nie en hy het sulke goeie maniere gehad dat ek later ingestem het. Hy was so romanties, die stilste eetplekke, kersliggies, net ek en hy altyd alleen.”

   “Hoekom trou tannie hom toe nie?”

   “Tragiese storie. Weer dieselfde medewerker wat in my oor kom fluister dat sy hoor Piet is eintlik ʼn getroude man. Kyk, ek kon nie weer dieselfde hartseer hanteer nie en wou dit net nie glo nie. Daardie aand toe merk ek dit vir die eerste keer, om sy vinger wys die merke waar sy trouring altyd sit. Hy haal toe elke keer net die ring af wanneer ons saam is. Ek was weereens verpletter. Dit was toe baie tragies op die ou ent. Piet en my medewerker is toe kort na mekaar oorlede. Albei se dood is toegeskryf aan iets giftigs wat hulle gedrink het. Doktertjie Selonsroos reken toe weer dat hulle die blare van Selonsrose ingekry het maar hy kon dit nooit bewys nie. Ek was toe ook finaal klaar met mans. Nooit weer een vertrou nie en nooit weer een naby aan my laat kom nie.”

   “Dit klink vir my ook beter so. Hulle het net met tannie gemors.”

   “Ja, maar kyk nou net so. Hier sit en vertel ek al die geheime van my lewe aan ʼn vreemdeling en ek het nog nie eens vir jou iets gemaak om te drink nie. Sit dan gaan maak tannie gou vir ons tee om te drink.”

   “Dankie, dit sal lekker wees.”

   Terwyl die tannie in die kombuis werksaam is staan ek op en loer bietjie in die vertrek rond. By die een gordyn gaan ek staan en trek dit effens weg. Deur die venster kyk ek uit oor die agterste deel van die erf. Skielik laat val ek die gordyn toe en stap vinnig na die kombuis toe.

   “Tannie ek het skielik iets onthou wat ek dringend moes doen vanoggend. Ek sal ongelukkig nie nou kan tee drink nie,” hoor ek myself sê en dan vlieg ek behoorlik by die huis uit en amper los oor die hekkie by die pad.

   ʼn Hele ent weg van die huis af hou ek op hardloop en terwyl ek steeds vinnig stap dink ek aan wat ek sopas gesien het. Amper die hele agterplaas staan toegegroei met Selonsrose en in die kombuis waar sy staan en teemaak het, die blare van Selonsrose.

No comments:

Post a Comment