Thursday, March 31, 2011



Na jare waartydens ek geen amptelike vakansie geneem het nie, besluit ek en mams om die twee kiddies see toe te neem. Die koerante berig van haglike kampeeroorde langs die Namibiese kuste en feitlik geen ordentlike toiletgeriewe en dienste nie. Omdat ons nie die oorde aan die kus ken nie, moet ons maar die besluit op ons eie neem oor watter oord ons gaan uittoets. Jakkalsputz het homself gediskwalifiseer met die tipe kampeerders wat die laaste jare daar uithang. Diefstal loop hoog en mens gaan hou nie vakansie om heeldag en nag jou goedjies op te pas nie en bowenal wil ek nie deur ander mense se musieksmaak getreiter word nie. Myl 108 het ons geval omrede dit relatief ver vanaf Henties is en die skuim sou waarskynlik nie sover reis om vakansie te hou nie, vir die eenvoudige rede dat dit te lank sal neem om by die naaste drankwinkel uit te kom. Ons bespreek ons plekkie en koop kampgoeters dat dit snaaks lyk. Ek en meisiekind(2jr) ry vroeg al met pappa se Toyota en slaan kampplek op en mamma en boetie(6maande) kom 7 dae later. Sy moes nog bietjie werk. Trots op my kampplek en sussie wat die opblaasmatras vir n trampolien aansien, is ons 7 uur reeds pootuit in die bed. Die volgende oggend kom trek daar n Gauteng bakkie langs my in en begin afpak. Ai tog , dog ek eers, hier kom die koffiekatrolbende ook, maar dis darem seker beter as Jakkalsputz se bure, so ek loop skud maar blad. Hoe verkeerd was ek nie met elke moontlike denke rondom die Gautengers nie. Daar loop staan en word ons duk tjommies en teen die tyd wat mamma kom toe is ons al vriende. Donald en vroulief Rita en dogter Donrie is vanaf Rustenburg, RSA, en baie kranige visvangers. Ja, visvangers, nie hengelaars nie.Ons vang toe ook sommer dikwels saam langs die tekortaanviswaters en anderkant Winston se wrak, by Mario Vermeulen se gat, daar trek eers Rita en toe Donald n paar meneer kabeljoue uit, met veral Donald se kabeljou wat n konsternasie terug in die kamp veroorsaak.Dis nou oor jaloesie, want sien Desember is vakansietyd en die visse is mos ook dan juis met vakansie.Donald se kabeljou het ook n storie aan gehad wat toe sommer ook die koerant gehaal het. In Januarie,20, 2010, se Republikein, skets Neil Terblance die storie wat tot Donald se kabeljou gelei het. Want sien, ek het bietjie deurmekaar geraak met die stokke en sit rustig my aas aan Donald se stok aan en sommer met die ingooislag vat die lang kabeljou aan die kort brandweerman se stok en na n mooi gespook land hy die pragvis waarmee hy so trots onder die Blou Bul pet staan en pronk. Kan jy jou indink dat ek aas vir n Blou Bul ondersteuner aangesit het? Ek wat vir die Stormers skreeu. Nou ja dit was Desember 2009 en ons het sommer klaar planne vir Desember 2010 gemaak om weer Myl 108 toe te gaan. Kom Desember, kom die koerantberigte. Die toilette by 108 is vuil en loop oor, die winkel is leeg, en, en,en........Maar ons gaan,watwou. Donald kom en slaap eers by ons in Windhoek oor. Die keer wag ek vir mamma om klaar te werk, maar ek worry nie want Donald hou in elk geval vir ons plek langsaan hom en ek het nog nie my vakansiegeldtjies gekry nie. Uiteindelik is ons by die see en kamp is gemaak en als is sommer mooi. Donald vra nogal so ewe, "en hoe sal ons hierdie jaar die koerante maak?" Maar min het hy die volle impak van daardie woorde kon indink. Mario se gat is droog of het toegespoel en die vissies is skaars. Die groot dag van die hengel bonanza breek aan en nog steeds is die yskaste leeg. Ek vang alles van alle spesies maar alles is undersize en ek wonder nog of so undersize die prysgeld mag wen en dan beboet hulle jou sommer in dieselfde proses as wat jy die wengeld ontvang. Donald verlaat Mario se gat en ry so gooi gooi suidwaarts. Ek pak op en besluit om liewers kaalgat op die soutbaddens te dryf en vir mamsie kaal rond te jaag. Maar die sout is nie genoeg om ons altwee bo te hou nie, langs mekaar ja maar nie andersins nie.Toe sout begin brand gaan soek ons 108 se storte op. Die vuil storte word actually elke dag baie mooi skoon gewas. Op pad stort toe kom vlieg Rita soos n dwarrelwind daar deur die tent. Sy kom kry net skoon klere, hulle jaag vir Henties. Ek vra nog wat, het Donald die grootte gevang. Dis toe ook net so en laataand bel Donald. Hy het hom, dis nou die tjek van N$ 30 000.00. En beste van alles is ek het nie eens die aas aangesit nie en hy vang toe die vis net anderkant die duin waar ek kaal swem. En daar is Donald op die voorblad,middelblad en agterblad van elke koerant en elke radiostasie. Dit was nou die volmaakte beloning vir n man wat nooit moed opgegee het met ons dooierige visvangste nie.Natuurlik was daar vir mans soos ek ook lesse te leer, moenie op Bonanza dag jou aandag deur vroulief laat aftrek nie. Wel, nou wonder ek, wat gaan Desember 2011 oplewer? Nog iets wat my heeltyd aan die raai hou is wat sal gebeur as ek in Rustenburg gaan kuier? Sal Sun City sy groot prysgeld weer na mykant toe stuur?Kyk net hoe trots staan ons met daai wenvis en ook heeltemal tereg so, net bly hy het nie weer die Blou Bul pets op nie. Groette my vriend, hierdie jaar swem ek jou aas met die boogiebord in.

No comments:

Post a Comment